Discover
RSG Dokumentêr

343 Episodes
Reverse
Jy sal veel eerder 'n motor tweedehands aanskaf as wat jy enige iets anders sommer sal koop, maar hier is 'n wêreld wat jou twee keer sal laat dink. Thrifting of snuffelkoop is 'n florerende, globale verskynsel met 'n mark ter waarde van miljarde, gedryf deur die begeerte na bekostigbare, unieke items, 'n verbintenis tot omgewingsvolhoubaarheid en 'n kulturele verskuiwing weg van kitsmode. Thrifting omvat 'n verskeidenheid praktyke, van liefdadigheidswinkels en vlooimarkte tot saamgestelde vintage-boetieks en aanlyn herverkoopplatforms.
Christo van der Rheede is gebore op Goedverwacht, anderkant Piketberg in die Wes-Kaap. Desjare was hy eers ‘n musiekonderwyser en later skoolhoof. Toe beland hy by die Stigting vir Bemagtiging Deur Afrikaans (SBA) as uitvoerende hoof. Later het Christo homself geanker as sleutelfiguur in Suid-Afrika se landbougemeenskap as bestuurshoof van AgriSA, waar hy agt jaar lank betrokke was. Deesdae is hy 'n besoekende professor aan die Universiteit van die Vrystaat, en aan die stuur van sake by die FW de Klerk-stigting. Hy is vanjaar aangestel as voorsitter van die ABSA KKNK. Haidee Muller-Isaacs het saam met hom deur sy geboorteplek, Goedverwacht, se strate gestap, waar die heimwee hom weer beetgekry het.
Ouervervreemding is die ergste vorm van emosionele kindermishandeling wat toegepas kan word, omdat die kind - wat doelbewus deur sy een ouer van sy ander ouer vervreem word - tot só ‘n mate geïndoktroneer word, dat hy of sy gevoelens van haat teenoor die teikenouer begin koester. In die meeste gevalle is hierdie gevoelens ongegrond. Die kort- en langtermyn impak op die kind wat vervreem word, kan verwoestende gevolge hê, en litigasie in die hof is dikwels vir die teikenouer emosioneel en finansieël uitmergelend.
’n Dokumentêre program oor die lewe en werk van Laurika Rauch. Van “Kinders van die Wind” tot die hartklop van die land, volg ons haar reis deur musiek, herinnering en menswees. Dis ’n eerbetoon aan ’n ikoon, wat nie net gesing het nie, maar ons laat voel het.
Die bekende Maties-rugbyklub is vanjaar 150 jaar oud - ’n beduidende mylpaal in Suid-Afrika se rugbygeskiedenis. Sedert die klub se ontstaan in 1875 met ’n wedstryd op Die Braak (gespeel met ’n ronde bal) het die klub gegroei tot een van die mees gedugte instellings in die geskiedenis van die spel.
Tydens die maak van JEFFREYSBAAI: DORP VAN DROME, DORP VAN SAAMWERK het Ilse Salzwedel ook gaan inloer by die Jbay Recycling Project, ‘n nie-regeringsorganisasie wat daarop gemik is om die omgewing rommelvry te hou. Hulle doen dit op ‘n manier wat ook die kinders van Jeffreysbaai bemagtig. Die kinders kry “moolah” in ruil vir alle herwinbare rommel wat hulle insamel. Die “moolah” kan dan by die projek se winkeltjie verruil word vir alles van skoolklere en skryfbehoeftes tot toiletware, kos, speelgoed en klere. Ilse het met die projekhoof, Tanya Lategan, en van die kinders gesels.
Jeffreysbaai is een van die die top-10 branderry-bestemmings ter wêreld, maar ‘n bankrot munisipaliteit het byna veroorsaak dat toeriste die dorp begin vermy het. Toe spring die inwoners self in... Deesdae is dit weer een van die drie gewildste kusdorpe in die land, en ‘n model vir goeie samewerking tussen inwoners en die plaaslike munisipaliteit.
Durbanville is ‘n landelike dorpie, skaars 25 km van Kaapstad af, wat al die Suiwelboer van die Jaar, Die Graanboer van die Jaar en driemalige Generaal Smutstrofee neffens die betonoerwoud verower het. Die kerk en skool het, soos in baie Suid-Afrikaanse dorpe, ‘n groot rol gespeel in die vorming van die gemeenskappe. In 2026 is dit die 200-tal vir die Durbanville NG gemeente. Die 200ste bestaansjaar van Hoërskool Durbanville sal in 2027 gevier word. Johan Rademan ontrafel ‘n paar geheime uit Durbanville se geskiedenis.
See-ys is vir die oseaan se ekostelsel soos grond vir die woud. Wanneer seewater koud genoeg word om te vries, verdryf dit sout, wat veroorsaak dat kanale in die ys vorm. Alge groei binne hierdie kanale, en vorm ‘n integrale basis van die voedselketting. Satellietdata-opnames van see-ys het in 1978 begin. Dit wys groot veranderinge oor die afgelope paar dekades. Watter rol speel see-ys in seestrome, ekostelsels en klimaat?
Hy is die seun van ‘n groenteboer van die Vrystaat. Sy opgang in die kunswêreld is opspraakwekkend. Carla McKenzie vind uit hoekom Portchie se kuns tot soveel mense spreek. Sy kunswerke is 'n handelsmerk van helder kleure, vorms, fietse, hoenders en blou bome. Die vleulklavier, beelde en skilderye skep ‘n alomteenwoordigheid van vrede in Maria’s Manor. Portchie vier vanjaar 35 jaar as skilder.
Die pandemie van geslagsgeweld in Suid-Afrika word in hierdie dokumentêr deur Heindrich Wyngaard ondersoek. Hy stel ’n aantal vroue aan die woord – ’n politieke wetenskaplike, aktiviste, ’n regsgeleerde, ’n sangeres en ’n oorlewende van GBV. Die joernalis, Julian Jansen, skrywer van Die moord op Deveney Nel, neem ook deel. Heindrich waarsku dat van die vertellings moontlik sensitiewe luisteraars mag pla, maar hy sê dit was nodig om dit in te sluit sodat die harde werklikheid van geslagsgeweld deur die luisteraars ervaar kan word. Hy hoop dit sal luisteraars – veral mans – tot aksie dryf.
Aktrise, dosent, skrywer, teaterbeoordelaar, en stigter van die Nasionale Toneelkompetisie is maar net ván die beskrywings wat van Woutrine Theron gegee kan word. Sy het algemene bekendheid verwerf as Grieta in die destydse televisiereeks, Nommer Asseblief; was vir 30 jaar as dosent verbonde aan die destydse Pretoria Technikon, vandag TUT, en het twee boeke op haar kerfstok. Sy het verlede jaar 80 geword, en beplan om nog ‘n boek te skryf en om weer ‘n stuk op die verhoog, haar voorkeurmedium, te doen. Ina Strydom belig enkele van die vele aspekte van haar loopbaan.
Dagga, vir jare ’n taboe, is nou ’n alledaagse gesprekspunt. Van pynverligting tot geestesgesondheid word cannabis toenemend as ’n natuurlike alternatief voorgestel. Maar hoeveel daarvan is medies geregverdig, en hoeveel is bloot bemarking? Jaco de Waal ondersoek die opkoms van mediese cannabis in Suid-Afrika, en die spanning tussen verwagting, navorsing en werklikheid.
In Taco Kamstra se werf is daar ‘n kerktoring en kerkklok, wat uittroon bo sy vliegtuig in sy voorplaas! ‘n 1919 Model T-Ford, wat nog met ‘n slinger aangedraai word, en vele ander voertuie, begroet die mense wat verby sy huis/museum in Pretoria ry of besoek aflê. Taco moes leer om die miniatuur Sentinel-stoomenjin te stook en te dryf – en in die proses het hy sy broer se woonwa beskadig! Hy het 27 veteraanmotors, waarvan die oudste ‘n 1910 High Wheeler (Elektriese perdekoets) is. Die musiek van ‘n vrolike Westerse Cowboy-kroeg begroet jou as jy in die woonkamer instap, met Taco wat sy Steck Pianola Duo Art trap. Dié honky-tonk-klanke kom uit die 1927-musiekrolle met liedere soos Hawaiian Hearts en Rain. ‘n Handgemaakte ghong uit Nepal en nog ander klokke is musiek in sy ore. Die ou kerkorrel van die NG Kerk Bethal het ook sy plek op Taco se werf ingeneem!
Persone wat trauma beleef is bang en onseker, en het ondersteuning nodig om hulle deur hierdie donker tyd te neem. Dit is hier waar traumaberaders ‘n baie belangrike rol speel. Hulle is die spreekbuis tussen die familie, die pasiënt, en die traumachirurg. Tharien Oosthuizen het tyd spandeer met Rian Steenkamp, ‘n traumaberader by Netcare Milpark in Johannesburg, en met drie mense wat deur trauma geraak is.
Die afgelope 96 jaar word Tafelberg se kabelkar ingespan om mense en goedere op en af te laat ry. Johan Rademan het in die skadu van ou Tafelberg gaan kuier.
Ettienne Ludick vat die pad Gansbaai toe, waar hy delf in die ryk geskiedenis van 'n lewende legende. Van sy dae op skool toe 'n sielkundige vir hom gesê het musiek is nie vir hom beskore is, tot sy jongste album, Sirkels, met 'n 49 jaar lange reis tussen in. Anton Goosen vertel sy storie nes 'n liedjieboer kan.
Ilse Salzwedel ondersoek ‘n kwessie wat die laaste paar maande dikwels voorbladnuus gehaal het: Behoort geweldsmisdadigers parool te kry, of nie? (Die program is nie geskik vir sensitiewe luisteraars of kinders nie, aangesien dit beskrywings van geweld bevat)
Langs die kus van die Oos-Kaap, waar die Swartkopsrivier sy sout water in die see uitstort, lê ’n storie gewortel in die aarde, die see, en die hande van mense. Dit is die verhaal van Swartkops-seesout – ’n natuurlike skat wat met geduld en sorg geskep word. Jacques Arendt neem jou op ’n reis na hierdie unieke plek, waar tradisie, natuur, en gemeenskap hand aan hand gaan. Seesout het al vir eeue 'n belangrike rol gespeel in die geskiedenis van Swartkops. Die inheemse bewoners was die eerste mense wat sout as 'n waardevolle hulpbron gebruik het. Hulle het dit nie net gebruik om kos te geur nie, maar ook as middel om voedsel te preserveer.
Iewers in ‘n kelder by die nasionale uitsaaisentrum in Aucklandpark lê ‘n skatkis. ‘n Skatkis met pêrels van uitsaaiwese, wat strek oor langer as ‘n eeu. Dié skatte behoort aan elke Suid-Afrikaner. Dis volksbesit. Elsje van Jaarsveld ontdek weer hierdie juwele. Hier tref sy die voetspoere van wêreldklas joernaliste en vermaaklikheidsterre van ouds aan. Dis ‘n roete tussen geskiedenis, mensestories, opinies en ligte oomblikke, wat weer herleef word. Die argief is nie net ‘n plek waar ou opnames geberg word nie. Dit is ‘n plek waar ou stories, nie oud word nie.