Discover
KLETS

KLETS
Author: Afrikaans.Radio
Subscribed: 10Played: 47Subscribe
Share
© Afrikaans.Radio
Description
Van politiek tot polimiek, en van nuwe perspektiewe tot aweregse menings – Colene en Matthys laat niks ongesê nie. Saam met kundiges en ander lekker en interesante mense pak hulle die onderwerpe aan wat ons wêreld vorm.
Elke Woensdag iets nuuts. Kom KLETS Saam!
Word deel van die gesprekke wat jou laat dink en dalk selfs jou wêreldbeskouing verander
Elke Woensdag iets nuuts. Kom KLETS Saam!
Word deel van die gesprekke wat jou laat dink en dalk selfs jou wêreldbeskouing verander
222 Episodes
Reverse
As jy dit lees en jy’s nog nie weggeraap nie, sorry né, maar ten minste is dit Braaidag in die Suide van Afrika. En wat beter manier om jou erfenis te vier op Erfenisdag as met ’n gesprek oor taal, identiteit en die vreemde reis van Afrikaans self?
In hierdie episode KLETS ons saam met Prof Jacques du Plessis, Medeprofessor in Inligtingskunde aan die Universiteit van Wisconsin-Milwaukee, waar hy Afrikaans in die Midwest van die VSA doseer.
Jacques deel sy pad van Suid-Afrika tot in die VSA, hoe dit is om Afrikaans vir Amerikaners te leer, en die verrassende emosionele verbintenisse wat mense in Amerika (en elders) met Afrikaans vorm. Van die stereotipes en persepsies, tot die rykdom en diversiteit van ons taal. Hierdie gesprek wys hoekom Afrikaans baie meer is as net “’n taal van die verlede of onderdrukking.”
Ons gesels oor die diaspora van Afrikaanssprekendes, die rol van identiteit en kultuur, en hoekom nuwe woorde en kreatiewe taalgebruik ’n teken van lewe is en nie van verval nie. Jacques se projek, afrikaans.us, bied reeds ’n internasionale spilpunt vir leerders, liefhebbers en expats wat nie hul taal wil verloor nie.
Wat jy in die KLETS kry, is nie net akademiese praatjies nie. Dis passie. Dis liefde. Dis ’n herinnering dat Afrikaans ’n wêreldtaal in wording is, vol stories, vol mense, vol moontlikhede.
So ja, terwyl jy vanaand ’n tjoppie draai, onthou: Afrikaans leef – nie net in Pretoria of Paternoster nie, maar selfs in Milwaukee. www.afrikaans.us · www.jacquesduplessis.com · Afrikaans.Radio · KLETS · KLETS - YouTube
In hierdie week se KLETS "be-klets" Matthys en Colene die wêreld soos dit nou lyk: gepolariseerd, kwaad en vol vrae.
Charlie Kirk is dood – en saam met hom ’n hele klomp idees wat mense óf laat kook het, óf laat kopknik het. Sy sluipmoord gooi petrol op die debat oor patriotisme, politieke stemme en of vryheid van spraak ooit werklik bestaan het, of net ’n mooi storie was vir die handboek.
Intussen raak die strate in die VK ook warm met 'n optog. Onwettige immigrasie druk gemeenskappe op hul breekpunte, en die vlam van patriotisme steek oral hoër. Dis nie meer net lawaai nie – dis generasies wat mekaar in die oë kyk en sê: “Hier trek ek my streep.”
En kyk jy suid, dan sien jy dit ook hier. Suid-Afrikaanse jongmense wat nie meer stilbly nie. Gen Z’s wat begin stem, baklei en hul eie spasie in die politiek opeis. Is hulle die hoop wat ons soek, of net nog ’n golf wat met lawaai gaan breek sonder om iets te bou?
En natuurlik die ANC – ’n party wat al hoe meer soos ’n stokou sitcom voel: jy weet die volgende episode gaan dieselfde wees, maar tog kyk jy weer, want dalk… dalk is daar ’n plot twist.
Colene deel haar luukse wenk van die week oor oggendroetines en hoekom jou derms dalk die eintlike baas van jou brein is.
Dis politiek, patriotisme en ’n bietjie probiotika. Net nog ’n dag in die KLETS-kantoor. Afrikaans.Radio · KLETS · KLETS - YouTube
In hierdie week se KLETS kry ons kuier van ’n groot naam in die wêreld van Afrikaanse joernalistiek en uitsaaiwese, die bekroonde Suzaan Steyn. As jy haar stem al op Radio gehoor het, of haar werk op TV gevolg het, weet jy sy bring stories tot lewe met kennis en warmte.
Suzaan het pas haar eie potgooi bekend gestel genaamd "Met Almal. Oor Alles." en van Vrydag af kan jy dit ook luister op Afrikaans.Radio. Ons KLETS met haar oor die ontstaan van die projek, die temas en mense waarmee sy gesels, en hoekom daar vandag meer as ooit ’n behoefte is vir eerlike, insiggewende gesprekke.
Suzaan deel met ons haar kleurryke loopbaan in radio en TV en die lesse wat sy oor dekades van uitsaai geleer het.
En as jy gedink het dis net mikrofone en kameras, dink weer. Suzaan vertel ook van haar beste finansiële raad, wat sy op die RSG program Rand en Sent geleer het wat steeds goud werd is vir enigeen wat probeer sin maak van geld. Sy deel ook haar top gesondheidswenk, en jy sal dit wil hoor, want in haar 60’s lyk sy nie net ongelooflik nie, sy straal.
Colene deel met ons haar wenk van die week vir 'n ekstra bederf om jou dag of week net ’n bietjie meer luuks te maak.
Dis ’n episode wat tussen herinnering en vernuwing, tussen raad en lag, tussen luuks en leefbaar. ’n Gesprek met een van die groot stemme van ons tyd, en ’n kans om te hoor hoe sy steeds inspireer, leer en ons vermaak. Afrikaans.Radio · KLETS · KLETS - YouTube
Ons sê totsiens aan Neil de Beer. 'n Vriend van die show en vegter vir Suid-Afrika. Neil was nooit bang vir ’n moeilike vraag of ’n ongemaklike waarheid nie. Hy’t gelag, ge"moer", gedebatteer en altyd hoop gebring. Hierdie episode is ons huldeblyk aan hom, die man wat ge-KLETS het soos min ander kon.
Maar die lewe staan nie stil nie. By die Silwerskermfees wen Hannon en die Tannies juig. Maar die einste vasgespykerde aanhangers besluit om die gay boer van Boer Soek ’n Vrou aan te vat op socials.
Curro word deur die Mouton Trust oorgeneem. ’n Paar miljarde verander van hande, en ons wonder of dit die toekoms van leer red, of net nog ’n mooi belegging is.
Militêre oefeninge is weer op die agenda. Groot woorde, groot speelgoed, maar die impak vir Suid-Afrika se gewone burger is iets anders.
Greta Thunberg klim weer op ’n boot, vol nuwe planne en vars vaart. Sy probeer die planeet red; ons probeer net deur die week kom. Afrikaans.Radio · KLETS · KLETS - YouTube
In hierdie week se KLETS vat ons die land se temperatuur – en nie net omdat die seisoen draai en jy skielik nie weet of jy ’n baadjie of ’n braaivurk moet vat nie.
Ons praat oor sport en emosie: Drikus du Plessis wat wys hoe ’n klap ook ’n storie kan vertel, en die Springbokke se nederlaag die afgelope naweek wat jou dalk laat wonder of dit nie tyd is om ’n nasionale dialoog in die kleedkamer te begin nie.
Van daar skuif ons na die groot politieke speelveld. Die ANC se nasionale dialoog – is dit werklik ’n gesprek, of net nog ’n manier om die klank van grondvlak-stemme te ignoreer? Ons kyk na die mobilisering van politieke energie, die strategieë agter die skerms, en hoe die identiteit van die ANC deesdae meer met onderdrukking en werkloosheid verbind word as met hoop en bevryding.
En dan, die groter vraag: hoe hou die narratief van onderdrukking Suid-Afrika vas, en hoe breek ons daaruit? Is daar ’n nuwe toekoms moontlik, of herhaal ons net die selfde ou draaiboek?
Dis sport, politiek, emosie en ’n tikkie satire – alles in een gesprek wat jou laat dink… en dalk laat lag, selfs al voel jy eintlik lus om te huil. Afrikaans.Radio · KLETS · KLETS - YouTube
In hierdie week se KLETS kyk ons na die Nasionale Dialoog – daai groot “kom ons gesels”-projek wat miljoene rande kos. Die DA rol hul 6-punt-plan uit om Suid-Afrika reg te ruk – ses fokusareas wat, volgens hulle, die land kan draai van chaos na iets wat lyk soos orde.
Maar ons het ook vir ChatGPT gevra wat sy 6 belangrikste punte sou wees om Suid-Afrika om te keer. Die resultate? Prakties, duidelik, amper té sinvol… Mens wonder half of die DA nie dalk ook ’n draai by ChatGPT gemaak het nie.
Gayton McKenzie is weer in die kollig – met tonele wat meer pas by Narcos: Die Orania Edition as by ’n minister.
En dan’s daar die “kakkerlak”-saga rondom Kenny Kunene. Die hof het beslis dat sy gebruik van die woord teenoor Julius Malema wél as haatspraak tel – nie net ’n belediging nie, maar ’n gevaarlike term met ’n donker geskiedenis in internasionale konflikte. In Suid-Afrika dra woorde gewig, veral in die politiek.
Want hier, as jy nie lag nie, gaan jy net huil… en by KLETS kies ons gewoonlik die lag – met ’n steek of twee in die ribbes waar dit saak maak. Afrikaans.Radio · KLETS · KLETS - YouTube
Vrouedag: Sy’t Onthou”
9 Augustus.
Dis nie net ’n vakansiedag nie.
Dis nie net “discount op blompotte by Checkers” nie.
Dis nie net ’n WhatsApp-storie met pienk skrif en “Jy’s spesiaal, vriendin” nie.
Dis ’n dag.
’n Ernstige dag.
Met geskiedenis.
Met backbone.
1956.
Pretoria.
Uniegebou.
20 000 vroue.
Nie met plakkate en skree nie —
maar met pas.
Met styl.
Met stilte.
Dertig minute.
Staan. Net so.
En laat die Unie weet:
“Wathint’ abafazi… wathint’ imbokodo.”
Vat aan ’n vrou,
jy vat aan ’n rots.
’n Rots met ’n handsak.
En ’n petisie.
En waarskynlik ’n ‘n tissue in die bra, want jy weet… net in geval.
En as jy jou ore spits…
as jy regtig luister…
kan jy haar hoor sê:
“Ek staan op ’n moerse rots langs die see by Paternoster.
Die rots sidder onder my sole.
My bo-beenspiere bult.
My bekken smyt die aangeleerde gelate knak uit haar uit.
Se moer.
Ek is rots. Ek is klip. Ek is duin.”
Hulle’t nie net teen pasboeke gestaan nie.
Hulle’t gestaan vir stem.
Vir spasie.
Vir storie.
Vir reg.
Vandag?
In raadskamers.
In operasieteaters.
By braais.
In WhatsApp-groepe waar hulle die enigste een is wat vra,
“Mense, het ons al hout gereël?”
Vroue leef gemiddeld langer as mans.
Nie omdat hulle xx genes het nie —
maar omdat hulle nie op n trampolien spring met ’n kettingsaag vir ’n YouTube video nie.
Vroue verloor in hul leeftyd tussen 30 en 40 liter bloed —
net oor die maandding.
En hulle’s steeds by die werk.
En koop piesangs.
En gee raad.
En organiseer klaskamerversierings vir Erfenisdag.
En, hulle sien meer kleure.
Waar jy “blou” sien, sien sy:
“blou-met-emosionele-ondertone-van-subtiele-onvoltooide-verwagtinge.”
Dis nie net ’n kleur nie.
Dis ’n gevoel.
En dan’s daar die geheue.
Jyt dalk vergeet waar jy jou sleutels gelos het…
Maar sy weet.
Sy’t ook onthou wat jy in op 31 Desember 2017 om 11:42 gesê het toe jy haar ma ‘oorheersend’ genoem het.
Sy’t daai datum gestoor soos ’n verjaarsdag.
Vrouedag is nie ’n blom nie.
Dis nie bubbly nie.
Dis nie ’n post wat sê “Girl power!” met glitter nie.
Dis ’n herinnering:
Sy’s daar.
Sy’s moeg.
Sy’s sterk.
Sy’s mooi.
Sy’s skerp.
Sy’s stadig om te kwaad te word… maar behoed jou as jy daar kom.
En as sy dan opstaan,
dán gebeur dit:
“Helder sing my tiete ’n koperklepgeluid.
My hande pak Moordbaai en Bekbaai.
My arms skeur ekstaties bo my kop:
Ek is.
Ek is.
Die here hoor my —
’n vry fokken vrou.”
So vandag?
Sê nie net “Gelukkige Vrouedag” nie.
Sê:
“Dankie dat jy alles onthou,
al vergeet ek soms alles.”
Dankie dat jy altyd weet waar die skêr is.
Waar die kinders se skoene is.
Waar ek myself verloor het — en weer moet kry.
Want sy’t nie net onthou nie.
Sy’t aangehou. Afrikaans.Radio · KLETS · KLETS - YouTube
In hierdie week se KLETS is dit ’n storie van onthullings, vergange glorie, vrouens.
Saai verklap waar News24 die akkers begrawe het. Die saadjie van die waarheid is geplant, nou wag ons vir iets om te groei… of bars.
Pamela Anderson, voormalige “see babe" van die wêreld, is nou weer “found”! Nie in ’n rooi swembroek nie, maar in eenvoud, sonder grimeer, en met meer siel as silicone. Dis ’n les in selfbeeld en liefde wat dalk net pas op die vooraand van Vrouedag.
En dan, terwyl R1 triljoen rand sedert 1994 tussen minder as 100 mense gesirkuleer het (ja, dis nie ’n typo nie – 12 nulle, minder as 100 mense), besef jy skielik dat die begroting van jou huishouding nie die probleem is nie.
Ons praat ook oor tyd:
’n Baba is pas gebore wat tegnies die oudste “gebore” baba in die wêreld is - ’n wetenskaplike kopknouer,
terwyl ons afskeid neem van Suid-Afrika se oudste vrou, ’n eerlike en eenvoudige lewe wat oor ’n eeu gestrek het.
Met 9 Augustus op die horison vier ons Vrouedag. Nie met “glitter" en bubbly" nie, maar met ’n ware ode aan vroue. Die doeners en die draers-van-alles-en-almal. Want in ’n land wat dikwels sy vroue misken en versaak, sê ons vandag: Ons sien julle. Ons vier julle.
So kom luister, lag, wonder en onthou want soms lê die grootste stories in die kleinste nuusberigte. Afrikaans.Radio · KLETS · KLETS - YouTube
In hierdie week se KLETS duik ons kop eerste in die wêreld van medisinale sampioene saam met Gerhard Pretorius van Kuja Wellness. Van Onkologie Blends tot Achiever Blends, van stres en angs tot bewustheid en persoonlike groei – hierdie gesprek is ’n allesomvattende inleiding tot die krag en magic van die fungus.
Gerhard deel sy reis van hoe Kuja Wellness ontstaan het uit ’n diep begeerte om liggaam, verstand en gees te balanseer deur die gebruik van mikrodosering, medisinale sampioene, en holistiese gesondheid.
Ons praat oor:
• Hoe medisinale sampioene gebruik word in onkologie, anti-aging, en stresverligting
• Wat mikrodosering regtig is, en hoe dit werk
• Hoekom die instelling van ’n intensie belangrik is voor gebruik
• Die rol van geloofstelsels, rituele, en die ou tradisies agter psilocybin-gebruik
• En hoekom mense toenemend na alternatiewe genesing draai
Of jy nuuskierig is oor sampioene, of al besig is om jou leefstyl holisties te verander, hierdie episode bied eerlike insigte, kennis en praktiese raad oor wat moontlik is – nie net vir jou gesondheid nie, maar vir jou hele manier van wees.
Kontak Gerhard Pretorius:
• https://kujawellness.com/
• +27 72 373 9257
Sit jou skoene by die deur neer, vat ’n glas water, en kom leer iets nuuts wat dalk jou hele benadering tot gesondheid sal verander. Afrikaans.Radio · KLETS · KLETS - YouTube
In hierdie week se KLETS ruk ons die kombers van realiteit af – en wat daaronder uitkruip is ’n mengsel van korrupsie, affairs en die laaste krummels van integriteit.
Die Coldplay kiss cam het dit weer gewys: ’n man is ’n bok, en ’n bok is… wel, ’n bliksem. Maar is dit net mans wat afdwaal? Colene bring die statistiek: wie cheat, hoe cheat hulle en wanneer. Matthys ontbloot dat vrouens dalk meer as net byspeler is in die drama van egskeidings. En vir almal wat nog darem getrou is - daar’s hoop (of gevaar): vrouens raak glo eers regtig lus vir buite-egtelike verhoudings in hul sestigs, en mans eers in hul sewentigs. Cheers op laat liefde en lus.
Dan die global village. Dis minder “love thy neighbour” en meer “Trump laai gevaarlike migrante in Eswatini af”. Is hulle dalk volgende op die kabinetlys?
Cyril se cronies is op “spesiale verlof”, Nobuhle Nkabane is ge-offer, en volgens die MK is sy die lam ter slagting. Is die MK dalk hierdie keer reg? Is dit hoekom Gauteng dalk volgende week sneeu kry?
Intussen blyk dit Suid-Afrika is nog méér korrup as wat ons al vermoed het. Maar moenie vrees nie – jou groen paspoort koop jou nog toegang tot ’n paar plekke sonder visum.
En moet asseblief net nie te vinnig hardloop nie… Jy wil nie soos Konstabel Mavuso en 10 ander oorgewig polisielede ná ’n lekker braai by die polisiestasie vir drie ure nog steeds sweet en hyg na hul agter ’n dief, of soos Granny Noma hom beskryg het “blur of muscle”, aan gejaag het nie.
Suid-Afrika is 'n movie, ’n riller, maar jy kan net lag. Of huil. Of altwee. Afrikaans.Radio · KLETS · KLETS - YouTube
In hierdie week se KLETS vat ons ’n draai verby die grens saam met Jan Hugo, aanbieder van die potgooi The Relocated South African. Jan het in Oktober 2020 saam met sy vrou na Portugal geëmigreer, in die middel van ’n pandemie, en hy deel met ons wat dit regtig beteken om jou lewe op te pak, jou huis agter te laat, en ’n nuwe toekoms te bou.
Wat beteken dit om jou land te los? Nie net jou huis of jou straat nie – maar jou taal, jou mense, en die ritme van alles wat bekend is?
Ons gesels oor:
• Wat mense dryf om te emigreer
• Die rol van geloof, gemeenskap en emosionele uithouvermoë
• Kulturele aanpassing en die stryd om tuis te voel
• Die kos en wyn van Portugal
• Die realiteit van veiligheid, lewensgehalte en perspektiefverskuiwing in die buiteland
• En hoe The Relocated South African eerlike emigrasie-stories deel
Dis nie net ’n gesprek oor waarheen jy gaan nie, maar oor wie jy word as jy gaan. Jan gesels met insig en sonder filters oor die werklikheid van emigrasie – die Suid-Afrikaanse konteks van politiek, taal en gesondheidsorg, en daai eerste week in ’n nuwe land.
Of jy self wonder oor emigrasie, of iemand ken wat reeds oppak – hierdie episode gee jou insig, hoop en eerlike perspektief.
Pak ’n koffiebeker, of ’n glas wyn… en ’n paspoort, en kom KLETS saam. The Relocated South African · Afrikaans.Radio · KLETS · KLETS - YouTube
In hierdie week se KLETS ruk Matthys en Colene die kombers af en kyk na wat aangaan in Suid-Afrika – in die strate, in die nuus, in die regering… en selfs in die sterre.
Daar’s ’n oorweldige gevoel van wantroue wat al hoe sterker word – teenoor die polisie, teenoor die staat, en dalk ook teenoor mekaar. Ons praat oor hoe die mense op straat voel, hoekom almal so bemoerd is, en waarom jy nie meer seker is wie jy kan bel as iets verkeerd loop nie.
Intussen kyk ons op. Ja, na bo, en vra: Wat sê die sterre vir Julie?
Spoiler alert: dit flikker nie vol hoop nie. Dis minder “daar kom lig in die ooste” en meer “sit stil en moenie te veel verwag nie.” ’n Mens begin jou amper afvra: Waarvandaan sal my hulp vandaan kom? Want as selfs die sterre net skouers ophaal, is jy op jou eie.
En dan is daar kunsmatige intelligensie: indrukwekkend, ja… maar soms so onnodig selfvoldaan, patronising, of sommer net dom astrant oor basiese goed. Moet ons begin worry, of net weer self begin dink?
Dis ’n episode oor waar ons staan, wat ons dink, en hoe ons voel in ’n land waar vertroue, veiligheid en die waarheid daagliks getoets word. Afrikaans.Radio · KLETS · KLETS - YouTube
In hierdie week se KLETS kuier ons in een van die mooiste valleie in Suid-Afrika – die Hemel-en-Aarde Vallei – by Bartho Eksteen Wynlandgoed.
Ons gesels met die bekroonde wynmaker Bartho Eksteen en sy seun, Pieter Willem Eksteen – twee wynmense met ’n passie vir eerlike wyn, goeie stories, en Afrikaanse gasvryheid sonder pretensie.
Bartho bring meer as vier dekades se wynmaak-ervaring, internasionale erkenning, en ’n onwrikbare liefde vir Afrikaans. Dis wyn, maar met gevoel, stories, en ’n goeie skeut humor.
Ons KLETS oor:
• Wat die Hemel-en-Aarde Vallei so uniek maak vir wynproduksie
• Die filosofie agter hul bekroonde wynreeks en etikette
• WIJNSKOOL en hoekom wynkennis gedeel móét word
• Die dinamiek van familie op ’n wynplaas
Wat jy proe in ’n bottel Bartho Eksteen-wyn, is meer as net gehalte – dis hart, siel, tyd, ervaring en mense. Elke sluk het ’n storie.
As jy hou van wyn met integriteit, karakter en Afrikaans, is hierdie gesprek vir jou.
⸻
Webwerf: barthoeksteen.co.za
Adres: R320, Hemel-en-Aarde Vallei, Hermanus
Telefoon: +27 72 323 5060
E-pos: bartho@hermanus.co.za | sune@hermanus.co.za
Skink vir jou ’n glas, druk play, en geniet hierdie “wynlike” reis vol geure en lewenslesse. Afrikaans.Radio · KLETS · KLETS - YouTube
Dis 30 jaar sedert 1995 – daardie Springbok-oomblik toe Madiba, in sy nommer 6-trui, die Webb Ellis-trofee aan Francois oorhandig het en ons almal vir ’n kort rukkie saam gebraai het. Maar nou, in 2025, het die Rainbow Nation vervaal.
Want terwyl die wêreld op die rand van ’n Derde Wêreldoorlog balanseer, lyk dit of ons in Suid-Afrika darem een troosprys het: ons is glo die 8ste veiligste plek op aarde as WW3 uitbreek. En meer nog – een spesifieke Suid-Afrikaanse stad is op daardie lys as toevlugsoord wanneer die wêreld aan die brand is.
Intussen het kunsmatige intelligensie begin oorneem, maar Colene vertel wat AI sou wou voel, weet, doen en ervaar as dit ’n mens kon wees. Spoiler: dis beslis nie net data en spreadsheets nie.
En maak daai tenk vol, want petrol- en dieselpryse gaan in Julie weer klim. Maar moenie vrees nie – ons gee jou vyf lande waar jy nog iets vir jou rand kry, sodat jy darem kan wegbreek sonder om die bank te breek.
Van geopolitiek tot AI met gevoelens – hierdie KLETS is vir almal wat weet dat jy in Suid-Afrika moet kan lag, huil en plan maak – soms alles in een oomblik. Afrikaans.Radio · KLETS · KLETS - YouTube
Vandag be-klets Colene en Matthys weer alles wat die afgelope week in Suid-Afrika gebeur het – van politieke transaksies tot sporttriomf en ekonomiese verlies.
Helen Zille het die politieke pot behoorlik geroer met die nuus dat sy dalk vir die DA se burgemeesterposisie in Johannesburg sal staan. Is dit ’n poging tot redding van ’n sinkende stad, of net nog ’n skuif op die blou skaakbord? Maar as ons kyk na wat Helen in Kaapstad reggekry het, het Johannesburg dalk regtig ’n “tannie” nodig om dinge daar reg te ruk.
President Cyril Ramaphosa verdedig steeds Swart Ekonomiese Bemagtiging (BEE) as ’n historiese noodsaaklikhied, ondanks die feit dat nóg ’n internasionale maatskappy hul deure in Suid-Afrika gaan sluit. Beleggers verloor en Suid-Afrikaners vertroue, maar Cupcake hou koers – maar weet ten minste hoe om ’n skoenveter vas te maak. En as jy nie weet waar sy bynaam Cupcake vandaan kom nie, moet jy hierdie episode luister…
Intussen brand Paul Mashatile ons belastinggeld in luukse Londense hotelle, terwyl Gayton McKenzie – altyd reg vir ’n stukkie kommentaar – besigheidsklas vlugte verdedig en sê dis “sadisties” om te verwag dat ministers in cattle class moet reis – want hulle werk mos hard vir ons en die land.
Tussen al die drama het Suid-Afrika darem iets gehad om op trots te wees. Die afgelope naweek was dit die Comrades Marathon 2025 en Gerda Steyn het haar vierde goue medalje gewen en Tete Dijana sy derde.
Ons vier Jeugdag Maandag, en met die jaar se tema van “meaningful economic participation” voel die viering maar hol. Suid-Afrika het loshande die goud verower in The Spectator se peiling oor jeugwerkloosheid met ’n skokkende 62,4% van jong mense sonder werk.
En dan is daar Elon Musk en Donald Trump – wat op sosiale media uitmekaar val. Het die bromance verbrokkel, of is dit net ’n ketamine-gevulde aandag-afleidingsmanoeuvre vir iets wat agter die skerms broei?
En dan, jou Afrikaanse woord van die week – jy weet jy gaan dit gebruik (of dalk sien) voordat die dag verby is. Afrikaans.Radio · KLETS · KLETS - YouTube
Ons is terug! En ons "be-klets" die chaos, komedie en intriges van die afgelope twee weke hier aan die suidpunt van Afrika.
Cyril was in die Withuis, waar hy vir Trump probeer beïndruk het met mooi broodjies en ’n paar gholf swings. Maar terug op Suid-Afrikaanse bodem is dit dieselfde ou storie: krisisse, hofdramas, ministers wat niks sê nie… en die tweede vliegtuig na Amerika.
Gelukkig het ons darem ander vriende… of is dit skuldeisers? China het vir ons $ 21,3 miljard al geleen, maar watter prys gaan Suid-Afrika in die lang termyn betaal? Gaan ons moet begin mandarin leer praat?
En terwyl sommige ministers hul portfolios behoorlik opneem, het ons ander – soos Dr Nobuhle Pamela Nkabane – wat met 'n mond vol kos probeer om "sinvolle" terugvoer te gee.
Colene sê die Kaap is steeds Hollands – duur en besig - maar vol goeie wyn, mooi views. Afrikaans.Radio · KLETS · KLETS - YouTube
In hierdie KLETS-episode kom kuier Dr Micki Pistorius op Matthys e bank en hul bespreek die donkerste gangetjies van die menslike psige – spesifiek dié van Kelly Smith, die ma van die 6-jarige Joslin Smith wat in Februarie 2024 in Saldanha verdwyn het.
Joslin is nog nie gevind nie. Maar Kelly is reeds skuldig bevind aan mensehandel en ontvoering, en haar vonnis word op 29 Mei 2025 opgelê.
Wat dryf ’n ma tot so ’n daad? Is dit boosheid? Gebrokenheid? Of ’n desperate brein wat onder ekonomiese en emosionele druk ineenstort?
Dr Micki Pistorius – forensiese sielkundige, neurosielkundige, en een van Suid-Afrika se bekendste misdaadkenners – help ons verstaan wat moontlik agter hierdie ondenkbare daad lê.
Maar dis nie al wat in Suid-Afrika aan die gang is nie. Dis koud, en Cyril is op toer – eers Nampo toe, toe Trump toe. Intussen moet Minister Godongwana êrens miljarde optower in Begroting 3.0 Afrikaans.Radio · KLETS · KLETS - YouTube
In hierdie week se KLETS-episode be-klets Colene en Matthys die week se chaos, satire en pure werklikheid met rizz en ’n ekstra sterk battery pack (want ja, loadshedding is terug).
Charlize Theron het dit jare terug gesê: daar’s net 44 Afrikaanse mense oor in die land. En nou, ironies genoeg, het die 44 en hul 5 vriende toe hul pad na die VSA gevind. In daai gees het Cyril Ramaphosa besluit om ná 20 jaar die “ander Afrikaner” te gaan besoek – by Nampo, nogal. Is dit ‘n opregte poging tot verbinding, of net nog ’n slim PR oomblik?
Maar wag, Cyril het nou ook besluit om vir Donald Trump te gaan hallo sê in die Withuis, om die “ware verhaal van Suid-Afrika” te vertel – of dalk net die ANC se weergawe daarvan. Trump klink glad nie opgewonde nie, en wonder hardop of Cupcake ooit die GPS reg gaan stel… want kom nou, die man kry nie eens sy iPad nie.
En van tassies pak gepraat – volgens ’n nuwe meningspeiling is daar ’n duidelike lys van lande waarheen mense wil emigreer. Maar wie’s boaan? En waar lê Suid-Afrika?
Dan ontplof daar ‘n storie reg uit ’n Netflix-reeks: die “Gay Cocaine Brotherhood” van in Europa.
Verder maak die nuwe pous sy verskyning, en volgens sy boetie het hulle as kinders nie “dokter-dokter” gespeel nie, maar “pous-pous”.
Colene gee vir ons ’n les in Gen Z-woordeskat, van “rizz” tot “sigma” – alles wat jy nodig het om hip te klink.
As jy op soek is na opinies, satire en "bussin" insigte, is hierdie KLETS vir jou. Want in Suid-Afrika is die lyn tussen grap en werklikheid fyn… of glad nie daar nie. Afrikaans.Radio · KLETS · KLETS - YouTube
Afrikaans word 100 en Colene word… wyser!
In hierdie feestelike, pittige én ernstige KLETS-episode vier ons 100 jaar van Afrikaans as amptelike taal én Colene se verjaarsdag – alles op een slag! Maar moenie dink dis net koek en konfetti nie.
Matthys en Colene sit om die tafel met Yolanda Barnard-Lemmer, joernalis, dosent in joernalistiek en een van die stemme wat nie bang is om eerlik oor Afrikaanse media, taal en identiteit te praat nie. Yolanda deel haar perspektief oor die stand van Afrikaanse joernalistiek, die uitdagings wat dit in ‘n digitale en polities gelaaide wêreld in die gesig staar, en haar eie “eksistensiële Afrikaner-krisis.” Is daar nog plek vir eerlike, vlymskerp Afrikaanse stories in ‘n wêreld van clickbait en partydigheid?
Terwyl ons Afrikaans vier, wonder ons ook: waarheen is die taal op pad? Kan dit groei buite sy tradisionele grense, of is dit besig om stilletjies agteruit te boer? Yolanda bring ‘n kombinasie van kritiese nadenke en diep liefde vir die taal.
Intussen channel Colene haar innerlike Meghan Markle op die vooraand van haar verjaarsdag. Ons kyk ook na die regering se poging om dit te “vat” met VAT wat toe nie heeltemal "gevat" het nie. Maar die effek van die regering se onbeholpenheid raak besigheid Suid-Afrika se sakke, maar gelukkig is die Suid-Afrikaner aangenaame mense – volgens ‘n onlangse studie.
Ons sluit af en praat ons oor die winter wat voorlê, Colene deel ‘n paar warm idees van plekke om te besoek.
Dis ‘n episode vol woorde, wysheid en warmte. Afrikaans.Radio · KLETS · KLETS - YouTube
In hierdie KLETS-episode gesels ons met Dr Rianne van Vuuren, toekomskundige en horison-skandeerder by die Instituut vir Toekomsnavorsing in Stellenbosch, oor wat die toekoms vir Suid-Afrika - en vir ons almal – moontlik inhou.
Rianne stel ook sy potgooi bekend, “Môre onder die Soeklig”, wat vanaf Maandag, 28 April 2025, beskikbaar sal wees op Afrikaans.Radio. Dié reeks bied ’n vars blik op moontlikhede, tendense en tegnologieë wat ons toekoms vorm – van hommeltuie tot die toekoms van demokrasie en nog baie meer.
Ons KLETS met Rianne oor kunsmatige intelligensie (en nie inseminasie nie), die toekoms van die ekonomie, alternatiewe vleis, en hoe horison-skandering gebruik word om ons voor te berei vir wat voorlê of waar geleenthede skuil.
Verder bespreek ons die jongste ontwikkelings in die politiek en nuus:
• Die VAT-hofsaak wat dalk meer as net belasting impliseer
• Cyril Ramaphosa se besluit om ’n wit Afrikaner man na die VSA te stuur om bande met Trump se span te herstel, terwyl die voorgestelde 4%-kwota vir wit mans in die werksmag onlangs gepubliseer is
• Die afsterwe van die Pous, en wat die volgende dae behels tot ’n nuwe een verkies word
• ’n Paar van die mees interessante en onlangse navorsingsprojekte wat tans werk aan die wêreld van môre
Dis toekomsnavorsing, realiteit, politiek en ’n kyk na wat wag om die volgende hoek.
Luister nou en verbreed jou horisonne en denke vir môre.
Jy kan met Dr Rianne van Vuuren kontak maak by - riannevanvuuren@gmail.com Afrikaans.Radio · KLETS · KLETS - YouTube