Discover
Hoop Nogtans
Hoop Nogtans
Author: Francois Bredenkamp
Subscribed: 0Played: 0Subscribe
Share
© Francois Bredenkamp
Description
Hoop Nogtans bediening deur Francois Bredenkamp
29 Episodes
Reverse
Aaron Beck het baanbrekerswerk gedoen om depressie te verstaan en te behandel. Hy identifiseer dat iemand met depressie drie negatiewe sienings het:1. Negatiewe siening van hulself’n Persoon begin glo daar is iets fout met hulself.2. Negatiewe siening van die wêreld (omstandighede)Die persoon begin die lewe en sy omgewing sien as onregverdig, oorweldigend of onmoontlik.3. Negatiewe siening van die toekomsDie persoon glo dinge sal nooit verbeter nie.’n Eenvoudige manier om dit op te som:Depressie groei dikwels uit drie pynlike oortuigings: “Ek is sleg, die lewe is sleg, en die toekoms gaan sleg wees.”Wanneer ons luister hoe Job praat in Job 16 en 17, kan ons verstaan dat sy gemoed baie laag moet wees. Kyk gerus saam met my hoe hy dink oor homself, hoe hy dink oor sy omstandighede, en hoe hy dink oor sy toekoms. Dit gaan ons bring waar ons verlede week was: As Job maar geweet het van Jesus. Deel II hierdie keer.
Kelly Pruitt was ‘n bekende skilder en beeldhouer wat in 2009 oorlede is. Sy laaste jare het hy deurgebring op ‘n plaas naby die Rio Grande rivier in die suidweste van die VSA. ‘n Paar weke voor sy dood begin hy sy eie graf grawe. Hy vorder halfpad, toe hy daarin gaan lê om te sien of hy inpas. Sy kommentaar, “Dis nogal gemaklik.”Baie mense maak ligtelik opmerkings oor hulle dood. Maar dit neem nie die talle vrae weg wat hulle het oor die dood nie. Nog meer mense worstel met vrae oor die lewe. En die lewe na die dood. Oor God. Oor wat God dink oor hulle.Job het baie sulke vrae gehad. Dis merkwaardig hoe relevant Job se vrae vandag nog is. Job leef in die dae van Genesis. Baie Bybelkenners reken hy is ‘n tydgenoot van Abraham.Ons hoor waarmee Job worstel in Job 9:25-35. Ek deel ‘n part gedagtes oor, AS JOB MAAR GEWEET HET VAN JESUS!
In die boek Second Calling skryf Dale Bourke dat sy jare gelede ’n konferensie bygewoon het. Toe dit verby was, het haar vriend Bruce aangebied om haar lughawe toe te neem. Net toe hulle wou vertrek, het ’n ander man gevra of hy saam met hulle kon ry.Terwyl hulle van die hotel af weg gery het, het sy en Bruce die man gevra waar hy werk, en hy het genoem dat hy by ’n spesifieke Christelike organisasie betrokke is. Bruce het gesê: “Ek het goeie herinneringe aan daardie groep, want ek het eenkeer ’n konferensie van hulle bygewoon, en dit is waar ek ’n Christen geword het. Dit was in 1972 in New Hampshire.”Bruce het verder verduidelik dat sy hele familie uiteindelik Christene geword het en aktief in Christelike bediening is. Sy suster was ’n Wycliffe-sendeling, en Bruce self het die uitgewer van ’n groot Christelike Uitgewer geword.Die man was stil. Dale en Bruce het gedink hulle verveel hom dalk.Toe sê die vreemdeling sag: “Ek het daardie retreat gelei. Dit was my eerste keer as konferensieleier, en ek het gevoel soos ’n totale mislukking. Tot vandag toe het ek geglo dit was een van die grootste mislukkings van my lewe.”Dale Bourke skryf verder: “Wat gelyk het na ’n eenvoudige daad—om ’n rit vir ’n vreemdeling aan te bied—het verander in ’n kragtige herinnering dat God ons pogings gebruik, of ons dit besef of nie. Ek mag die res van my lewe dinge doen wat glad nie suksesvol lyk nie. Tog ken net God die doel. Ek is eenvoudig geroep om getrou te wees.”Ons roeping is nie om die uitkoms te ken nie, maar om getrou te wees.Hier is ‘n Skrifgedeelte vir elkeen wat voel hul diens aan die Here was tevergeefs.Hebrews 12:1-3 OAV1 DAAROM dan, terwyl ons so ’n groot wolk van getuies rondom ons het, laat ons ook elke las aflê en die sonde wat ons so maklik omring, en met volharding die wedloop loop wat voor ons lê,2 die oog gevestig op Jesus, die Leidsman en Voleinder van die geloof, wat vir die vreugde wat Hom voorgehou is, die kruis verdra het, die skande verag het en aan die regterkant van die troon van God gaan sit het.3 Want julle moet ag gee op Hom wat so ’n teëspraak van die sondaars teen Hom verdra het, sodat julle in jul siele nie vermoeid word en verslap nie.Ek deel graag ‘n paar gedagtes hieroor.
Die spesifieke Sondag is die kerk gepak. Dis kindertoewyding die oggend en daar is baie familie en vriende om die geleentheid met die gesin te deel. Ek is dankbaar om die oggend die geleentheid te hê om die evangelie te deel met mense wat moontlik selde in die kerk kom. Een van die ouderlinge maak later sy beswaardheid aan my bekend. “Ons hou nie van jou styl van bediening nie. Jy trek mense na die kerk wat nie pas by ons nie. Mense wat ruik na rook en drank. (Ja, kan jy dit glo!). Ons dink nie jy is die regte een om ons gemeente te lei nie.”In die storie wat die Here Jesus vertel in Lukas 15 oor die verlore seun, is daar nog ‘n seun, die ouer broer. En daar is groot ooreenkoms tussen my ouderling van destyds en hierdie ouer broer. En jammer om te sê, ook tussen die ouer broer en baie mense wat elke week baie prominent in die kerk is. Of ten minste, baie mooi leef en bekend is vir hulle betrokkenheid by liefdadigheid, al is hulle nie so aktief betrokke by die kerk nie.Kom dink bietjie saam met my oor hierdie saak en laat weet my wat jý dink.
Rosaria Butterfield was ’n universiteitsprofessor, ’n ateïs, en openlik gekant teen die Christelike geloof. Sy het geglo dat Christenskap skadelik is vir mense en intellektueel minderwaardig. Nadat sy ’n artikel geskryf het waarin sy Christelike oortuigings gekritiseer het, het sy talle reaksies ontvang. Een brief het uitgestaan — dit was respekvol geskryf deur ’n predikant wat haar uitgenooi het tot gesprek. Uit nuuskierigheid het sy die uitnodiging aanvaar. Mettertyd het Rosaria en haar lewensmaat maaltye gedeel met die predikant en sy vrou. Daar was geen druk nie — net eerlike gesprek, vriendskap en die lees van die Skrif. Terwyl sy die Bybel ernstig bestudeer het, het sy Jesus leer ken — nie die karikatuur waaraan sy gewoond was nie, maar as Here en Verlosser. Na twee jaar het sy tot geloof in Christus gekom. Haar bekering was haar baie gekos en het groot lewensveranderinge ingehou, maar sy beskryf dit nie as verlies nie — sy noem dit redding. Sy het later geskryf: “Ek het nie ’n Christen geword omdat dit maklik was nie. Ek het ’n Christen geword omdat dit waar is.” Dis altyd so mooi om ’n opregte bekeringsverhaal te hoor. Soos die een in die storie wat die Here Jesus in Lukas 15 vertel, wat ons ken as die gelykenis van die verlore seun. Ons ontmoet die jong man wat geen respek het vir sy pa nie. Hy eis dat sy pa hom laat erf – dis nog voor sy pa dood is. Dis so goed asof hy vir sy pa sê, jy beteken vir my meer dood. Ek soek jou goed; nie vir jou nie. Ons sien sy (1) verkeerde gesindheid teenoor sy pa. Dit kom na vore as hy sê, “Gee my...” Maar dan kom hy opreg tot bekering. Maar iets groots is verkeerd in wat hy glo hom te doen staan. Ons sien (2) sy verkeerde oortuigings van wat sy vader van hom verwag. Dit wys as hy met homself praat oor wat hy alles vir sy pa gaan sê. Vroeër het hy gesê, “Gee my...” Nou sê hy, “ Maak my...Maak my ‘n dagloner.” Mense kom steeds tot bekering. Maar hulle val so maklik in dieselfde slaggat as die seun as hulle nie gesonde geestelike leiding kry nie. Hulle dien God met opregte bedoelings maar met verkeerde oortuigings. Hulle glo hulle moet so leef dat God hulle sal kan aanvaar. Hulle het (3) ‘n verkeerde siening van die Vader se hart. Hy wil nie hê sy seun moet werk vir aanvaarding nie. Vir die pa gaan dit om wat hý vir die seun wil doen. Ware bekering gaan nooit oor in wat ons nou alles vir die Vader moet doen om Hom gelukkig te maak nie. Ware bekering maak dit moontlik vir God om dinge vir ons te doen wat Hy nie kon voor ons bekering nie. Ek het ‘n paar gedagtes hieroor wat ek graag met jou wil deel. https://www.facebook.com/francois.bredenkamp https://www.youtube.com/@HoopNogtans
Aljazeera berig op 21 Julie 2025 uit Palkistan dat die owerhede minstens 13 mense, insluitende ‘n stamleier, in hegtenis geneem het op wat as ‘n eerwraakmoord (“honour killing”) beskou word. Bano Bibi en haar man Ehsan Ullah is vermoor as wraak omdat hulle getrou het teen die wense van hulle familie. Hulle het daardeur skande oor die familienaam gebring.Daar is in 2024 landswyd in Pakistan 547 eerwraakmoorde aangemeld, en baie word nooit aangemeld nie, met slegs een skuldigbevinding gelei het.Wat ons hier kry, is ‘n voorbeeld van hoe sterk die eer van die familienaam vir mense in hierdie lande is. Die eer van die familie word belangriker beskou as die individu se vryheid om te kies. As jy iets doen wat skandalig is en oneer bring vir jou familie, glo hulle jy verdien om doodgemaak te word.Om die volle impak van die Here Jesus storie oor die verlore seun in Lukas 15 te verstaan, moet ons besef dat die eer van ‘n vader baie hoog aangeslaan is. Wat die jong man in die storie doen, sou in ander lande met die dood gestraf word, selfs vandag nog.Kom besin gerus saam met my oor Lukas 15:12-24.https://www.bible.com/bible/117/LUK.5.12-24https://www.facebook.com/francois.bredenkamphttps://www.youtube.com/@HoopNogtans
Onthou jy nog die liedjie “Nobody likes me, everybody hates me, I guess I’ll eat worms!”Die liedjie gee nogal weer hoe baie mense voel. Oor hulself. Hoeveel mense voel niemand is lief vir hulle nie. Hulle voel onwaardig. Hulle kan nie eens dink dat iemand van hulle sal hou nie.Die evangelie van Jesus Christus vertel ‘n heel ander storie oor ons. Ons is kosbaar in God se oë. Hy kies om ons lief te hê, ten spyte van al ons foute en tekortkominge.Ek praat vandag met jou oor: ONTDEK – OF HERONTDEK – DIE HART VAN GOD VIR JOU‘n Pa stap ‘n vertrek binne en sien sy geliefde kind. Die pa se gesig verhelder. Hy glimlag breed. Die kind weet: My pa is bly om my te sien. Want die pa is inderdaad bly om sy kind te sien. Sy gesig sê vir die kind: Ek is so lief vir jou. Jy beteken so baie vir my! Kom hier na my toe. Ek het jou só gemis! Jy is vir my so spesiaal.Dit is die prentjie wat opgeroep word deur die woorde in die bekende priesterlike seën opgeteken in Numeri 6:25 AFR1953: die Here sal sy aangesig oor jou laat skyn en jou genadig wees..Ons mis die trefkrag in die meeste vertalings. Dis moeilik om die volle Hebreeuse betekenis te verwoord in ‘n ander taal.Die New Living Translation kom naby. May the Lord smile on you and be gracious to you.Dis God se hart vir jou. Ek deel graag ‘n paar gedagtes hieroor met jou.
In die Griekse mitologie is daar die storie van Sisyfus, die stigter en koning van Korinte (Efyra). As mens was hy aanmatigend en arrogant, en die gode straf hom. In die onderwêreld kry hy die taak om ‘n groot rots teen ‘n bult uit te stoot, en net soos hy amper bo is, dan rol die rots al die pad terug, en dan moet hy oor begin. So hou dit vol, dag vir dag, tot in ewigheid. Stoot. Amper daar. Tevergeefs. Stoot. Amper daar. Tevergeefs.Sisyfus se straf beskryf so baie mense se lewens. Alles wat hulle doen, voel vir hulle tevergeefs. Sonder die seën van die Here op ons lewens rus daar ‘n groot tevergeefsheid oor alles wat jy aanpak.Dis wat Salomo ons leer in Psalm 127:1-2 (NLV).“As die Here die huis nie bou nie, is die bouers se arbeid tevergeefs. As die Here die stad nie beskerm nie, waak die wagte tevergeefs. 2Tevergeefs werk julle so hard, van vroegoggend tot laatnag, soos julle swoeg om te bestaan. Maar vir hulle wat Hy liefhet, gee Hy dit in hulle slaap.”Jy is welkom om saam met my hieroor te besin.
Katarina die Grote, keiserin van Rusland het in 1787 ’n grootskaalse inspeksiereis onderneem langs die Dnieper River. Die reis is gereël deur Grigory Alexandrovich Potemkin (Potjomkin), een van Katarina se mees vertroude staatsmanne, wat haar wou beïndruk met sy bestuur van die provinsies. Dit word vertel dat Potjomkin vals papier- of kartondorpe langs die rivier opgerig het om Katarina doelbewus te mislei. Miskien het hy nie regtig so ver gegaan nie, miskien het hy. Daar is teenstrydige sienings hieroor. Wat wel gebeur het: • Bestaande dorpe is skoongemaak, versier en verfraai • Boere is soms bymekaar gebring om bevolkingsdigtheid te suggereer • Feesvieringe, seremonies en toneelspel is gebruik Dis duidelik hy wou haar beïndruk. Die uitdrukking “’n Potjomkin-dorp” het ’n vaste plek in Europese tale gekry as metafoor vir: ’n Bedrieglike vertoon wat ’n minder aantreklike werklikheid verbloem. Die vraag vir elkeen van ons is die volgende: Is my navolging van Christus niks meer as ‘n papierdun voorgee of is dit eg? Kom dit uit my hart uit omdat ek regtig glo dat Jesus Christus die Here is? Wie jy regtig dink Jesus Christus is, is al wat regtig saak maak. Want wat jy glo oor Jesus Christus gaan bepaal hoe jy gaan leef.https://www.facebook.com/francois.bredenkamp
Dis maklik om ‘n front voor te hou en te maak asof alles reg is, terwyl jy so moedeloos is dat jy nie kans sien vir aangaan nie. ‘n Gewilde sanger Sia sing die volgende: Unstoppable All smiles, I know what it takes to fool this town I'll do it 'til the sun goes down and all through the night time Oh, yeah Oh, yeah, I'll tell you what you wanna hear Keep my sunglasses on while I shed a tear It's never the right time, yeah-yeah I put my armour on, show you how strong I am I put my armour on, I'll show you that I am I'm unstoppable, I'm a Porsche with no brakes I'm invincible, yeah, I win every single game I'm so powerful, I don't need batteries to play I'm so confident, yeah, I'm unstoppable today Unstoppable today, unstoppable today Unstoppable today, I'm unstoppable today Unstoppable today, unstoppable today Unstoppable today, I'm unstoppable today Maar, waarmee het die liedjie begin? “All smiles, I know what it takes to fool this town” Hoeveel hartseer sit agter daardie woorde? Daar kom ‘n punt wat jy nie meer die werklikheid kan ontken nie. Vandag se boodskap is vir jou as dit waar is oor jou lewe.
n Klein seuntjie, so tien jaar oud, het die dinêr binnestap en by ’n tafel kom sit. Die kelnerin, reeds moeg ná ’n lang skof, kom vra wat hy graag wil hê.Die seuntjie kyk na die spyskaart en vra:“Hoeveel kos ’n roomys-sundae?”Sy gee vir hom die prys.Hy tel sy muntstukke stilletjies.Toe vra hy:“Hoeveel kos net gewone roomys?”Die kelnerin sug — daar wag baie klante — en sy noem die laer prys. Die seun dink oomblikkie, knik toe en sê:“Ek sal die gewone roomys neem.”Sy bring dit vir hom, effens geïrriteerd dat hy soveel tyd neem oor iets so klein. Ná hy klaar geëet het, betaal hy by die toonbank en stap weg.Toe sy terugkom om die tafel skoon te maak, staan sy doodstil.Langs die leë roomysbak lê ‘n paar muntstukke — presies genoeg om die verskil te maak tussen die roomys-sundae en die gewone roomys.Die seuntjie het die goedkoper roomys gekies sodat hy vir haar ’n fooitjie kon los.Op daardie oomblik besef sy hoe verkeerd sy hom beoordeel het — en hoe volkome sy sy hart misverstaan het.Ek weet nie hoe akkuraat hierdie storie is nie. Maar ek weet ons verstaan God se hart baie keer verkeerd.
In die Spaanse stad Valladolid waar Christopher Columbus in 1506 sterf, staan ‘n monument ter ere van die ontdekkingsreisiger. ‘n Stukkie simboliek ingebou in die monument is ‘n aardbol met ‘n band oor, met die volgende woorde Ne Plus Ultra. Vir jare was Spanje se leuse: Ne Plus Ultra. Dit beteken, niks anderkant nie. Daar is geen land anderkant Spanje nie. Ingebou in die monument is ‘n leeu wat die woordjie ne wegskeur van die res. Ne is die woordjie wat sê daar is niks anderkant nie. Wat ‘n mens nou lees, is Plus Ultra. Columbus het bewys, daar is land anderkant Spanje. Vir eeue glo hulle as mens deur die stukkie see wat Europa en Afrika skei, genoem die Straat van Gibraltar, wes sou vaar, gaan jy niks verder vind nie. Daar is geen land nie. Columbus het ontdek daar’s ‘n hele wêreld anderkant Spanje wat ons vandag ken as Noord-Amerika en Suid-Amerika. Jesus Christus het bewys dat daar lewe anderkant die dood is. Hy het die ne weggeskeur. Plus Ultra bly oor. Ewige lewe. Die kind van God kan die grootste gemoedsrus hê oor die dood en die lewe na die dood. Ons kan verklaar soos ‘n Simeon van ouds in Luk. 2:29 “Here, nou kan u dienskneg in vrede sterf...” Ek deel graag ‘n paar gedagtes hieroor met jou. https://www.bible.com/bible/117/LUK.2.29 https://www.facebook.com/francois.bredenkamp
Dis maklik vir ‘n persoon in hul senior jare om te voel dat hulle waardeloos is, oorbodig, selfs onwelkom, ‘n oorlas vir die samelewing. Om te voel jy word eenkant toe gestoot, miskien verdra, maar nie waardeer nie. Maar dis moontlik om ‘n vol lewe te lei in jou silwer-grys jare. Johann Goethe skryf sy meesterlike toneelstuk op die ouderdom van 81. Winston Churchill, op 82, skryf die eerste van 4 dele oor die Britse geskiedenis. Toscanini, die bekende Italiaanse dirigent, lewer sy laaste uitvoering op 87. Michelangelo, op 88, omskep vir die laaste keer ‘n stuk marmer in ‘n pragtige beeldhouwerk. Rubenstein, befaamde pianis, lewer op 89 ‘n puik uitvoering. Picasso skilder steeds op 90. Stradivari, die legendariese vioolmaker, maak viole op 93. Die digter Robert Browning begin sy gedig Rabbi Ben Ezra met die volgende: Grow old with me The best is yet to be – The last of life, for which the first was made Our lives are in His hand Who saith, “A whole I planned;” Youth shows but half; trust God, See all, nor be afraid. Die Bybel bied aan ons ‘n positiewe siening van bejaardheid. Een van waardigheid vir wie jy is; iemand met waarde vir ander mense; iemand met waarde vir die koninkryk van God. Die psalmis verklaar in Psalm 92:15 NLV: Al is hulle oud, sal hulle steeds vrugte dra; hulle is vars en lewenskragtig. Die AFR1953-vertaling praat van “in die gryse ouderdom sal hulle nog vrugte dra.” Jou ouderdom diskwalifiseer jou nie om steeds ‘n positiewe bydrae te lewer nie. Wat jy doen, mag dalk anders wees as wat jy gedoen het toe jy jonger, gesonder en sterker was. Wat jy nou doen is nie minder belangrik nie. Wees oud met waardigheid. Ek gesels graag in die video verder met jou hieroor. https://www.bible.com/bible/117/PSA.92.14-15 https://www.facebook.com/francois.bredenkamp/https://www.youtube.com/@HoopNogtans
In die rolprent A few Good Men is daar ‘n toneel uit ‘n militêre verhoor. Kolonel Natan R Jessep onder kruisondervraging. Die prokureur Lt Daniel Kaffee is baie direk: Hy wil by die waarheid uitkom. Colonel Jessep ... "You want answers?" Lieutenant Kaffee ... "I think I'm entitled." Colonel Jessep ... "YOU WANT ANSWERS?" Lieutenant Kaffee ... "I WANT THE TRUTH!" Colonel Jessep ... "YOU CAN'T HANDLE THE TRUTH!" Daar is waarheid wat mense moet hoor, en dikwels is hierdie die waarheid: “You can’t handle the truth!” Mense wil nie die waarheid hoor nie. Die waarheid is: God gaan vir die hart! Beginsel: Probleme is God se geleentheid om mense se harte te verander. God stel belang in die hart! Uit die lewe van die profeet Elisa het ons die laaste paar weke gesien hoe God die mees hooplose situasies omskep. ‘n Weduwee kan haar skuld betaal omdat God die olie vermeerder. ‘n Kinderlose egpaar kry die kind waarop hulle so lank wag. Die kind gaan dood maar Elisa wek hom op uit die dood. Slegte kos word eetbaar gemaak. Hongersnood word oornag uitgewis. Maar alles gebeur met ‘n groter doel. God kry die eer. As die hart verkeerd is, gaan God op die hart fokus. Hy gebruik probleme om mense se aandag te kry, dis waar; Hy sal mense help met hulle probleem, dis waar – Hy verander situasies in antwoord op gebed, Hy voorsien finansies, Hy herstel verhoudings, Hy genees, Hy help – maar wat regtig vir God saak maak, is dat mense se harte in lyn met Sy wil sal kom. As die hart vir God ’n probeem is, gaan die verandering van die hart vir die mens ’n probleem wees. Mense wil nie met die waarheid gekonfronteer word wat hulle hart gaan ontbloot nie. Ons sien dit baie duidelik wanneer ons stilstaan by 2 Konings 5, die verhaal van die melaatse Naaman se genesing. - https://www.facebook.com/francois.bredenkamp/ - https://www.bible.com/bible/117/2KI.5.NLV
Die Centers for Disease Control and Prevention (CDC) in die VSA het in 2023 omvattende navorsing onder Amerkiaanse tieners gedoen. Hul bevindings is kommerwekkend. Meer as ’n kwart van Amerikaanse tieners het swak geestesgesondheid ervaar, en ongeveer 40% het aanhoudend hartseer en hopeloos gevoel. Die opname het ook bevind dat 20% van die leerlinge ernstig oorweeg het om selfmoord te pleeg, met sowat 10% wat aangedui het dat hulle probeer het om hul lewens te beëindig [Anderer, S. (2024). CDC: 2 in 5 High Schoolers Report Persistent Sadness. JAMA, 332(21), 1779-1779]. Die statistiek vir Australië toon dieselfde tendense: ons jongmense worstel met intense hooploosheid. Hulle het nie hoop vir ‘n beter toekoms nie, en dit maak dat hulle gemoedstemming laag is. Dis nie net tieners wat hiermee sukkel nie. Hoeveel mense sien nie kans vir die toekoms nie. Ons is besig om te kyk na die lewe van die profeet Elisa rondom die tema RAAD VIR RAADOP MENSE. Die een duidelike boodskap wat so duidelik na vore kom in die lewe van Elisa is dat daar hoop is vir hooplose situasies. Daar is hoop vir hooplose mense. Staan gerus stil saam met my om te leer hoe Elisa lewensgevaar met geloof tegemoet gaan.
Vir baie jare het mense geglo dat dit onmoontlik is om die klankgrens te breek. Sou jy vinniger vlieg as die spoed van klank – om en by 1100 km per uur – dan sal jou vliegtuig disintegreer. Dit sal wees asof jy teen ‘n onsigbare muur vasvlieg. Een persoon wat dit nie geglo het nie, was Chuck Yaeger, ‘n Amerikaanse vegvlieënier wat op 14 Oktober 1947 die teendeel bewys het. Chuck Yaeger het by verskeie geleenthede gepoog om vinninger as klank te vlieg. Elke keer was hy onsuksesvol. Hoe nader hy aan die spoed van klank gekom het, hoe meer onheilspellend het dinge geraak. Die vliegtuig het so begin ruk, dit het vir hom gevoel die vliegtuig kan in stukke verbrokkel as hy dit sou waag om vinniger te vlieg. Terug op die grond is verstellings en aanpassings aan die vliegtuig gemaak, alles skynbaar tevergeefs. Die vliegtuig het steeds geruk hoe nader Yaeger aan die spoed van klank gekom het. Op 14 Oktober 1947, egter, het hy aanhou versnel. Die geruk en pluk aan die vliegtuig was dié dag steeds daar. Maar Yaeger het geglo: Dit kán gedoen word. En hy hét! Die een oomblik was dit asof sy vliegtuig uitmekaar gaan skeur; die volgende oomblik bars hy deur die klankgrens met ‘n geknal. Sy vliegtuig is in een stuk. Hy leef. En hy het deurgebars deur een van die gróót grense waarvoor die mensdom te staan gekom het – die geloof dat die spoed van klank nie met veiligheid oorskrei kan word nie. Daar is talle ander “klankgrense” waarin mense glo; dinge wat mense glo onmoontlik is. In my boodskap oor 2 Konings 6:24-7:20 NLV fokus ek hierop: Wanneer mense in omstandighede beland waaarin hul desperaat voel, sien hul dikwels geen uitkoms nie. Menslik gesproke is die situasie dikwels hopeloos. Maar Gód kan deur die grens van die hooplose situasie breek! Gód kan ‘n verskil maak. En Hy wíl. Onthou my onlangse boodskappe is beskikbaar op ons YouTube kanaal Hoop Nogtans. - https://www.bible.com/bible/117/2KI.6.27-33 - https://www.facebook.com/francois.bredenkamp/
Victor Frankl was ‘n Joodse psigiater voor die Tweede Wêreldoorlog in Weenen, Oostenryk. In sy werk Man’s search for meaning, gepubliseer in 1946, net na die oorlog, verduidelik hy hoe die sentrale idees in hierdie boek hom gehelp het om die swaarkry in die konsentrasiekamp te oorleef. In kort, as ‘n mens rede het om voor te lewe, kan jy onmenslike swaarkry verdra. Sonder iets wat betekenis aan jou lewe gee, het jy geen rede om te wil aanhou nie. Hy vertel in Man’s search for meaning hoe hy hierdie beginsel in aksie gesien het in die ondraaaglike omstandighede in die konsentrasiekamp. Sommige mense het vinnig die wil om te oorleef verloor. Hulle het nie die konsentrasiekamp oorleef nie. Ander mense weer het sterk genoeg rede gehad om te oorleef, en hulle het oorleef, teen alle verwagting in. Frankl publiseer nog ‘n boek in 1946, Die ärzliche Seelzorge (Engelse titel: The doctor and the soul). Hierin praat hy oor die rol van die psigiater om mense te help om betekenis te vind in hulle lewe. Frankl vertel in sy outobiografie hoe hy en sy vrou op ‘n dag in Weenen verby ‘n katedraal stap. Die indrukwekkende Gotiese boustyl het hom altyd aangegryp, hoewel hy nog nooit binne-in die kerk was nie. Dié dag beweeg die pragtige orrelmusiek in die kerk hom en sy vrou om in te stap. Die priester begin preek. Frankl hoor hoe die priester uitvaar teen die goddelose idees van ‘n ene Victor Frankl hier in Weenen. Die priester bespreek daardie dag Frankl se boek Die ärzliche Seelzorge (Engelse titel: The doctor and the soul), en kraak alles af wat vir Frankl van waarde is. Frankl het die volgende te sê oor die toevalligheid van die situasie, dat hy juis op daardie oomblik moes instap: “How many minutes had passed from my birth up to that sermon, up to the point of our visit to the Votive Church for the first time? How minuscule the chance that I would enter at exactly the moment when the priest mentioned me in his sermon? I think the only appropriate attitude to such coincidences is to not even try to explain them. Anyway, I am too ignorant to explain them, and too smart to deny them.” Jy is welkom om saam met my te besin oor die onderwerp “Niks gebeur sommer net nie!”
Jare gelede het ‘n mnr Van der Merwe vir die Waterraad in Namibië gewerk. Op ‘n dag was hy in die Namibwoestyn op pad Walvisbaai toe. Sy voertuig oorverhit en gaan staan. Hy besef dit kan tot twee dae neem voordat hulle na hom gaan begin soek. Die beste ding wat hy kan doen is om te stap tot by die kus, en dan noordwaarts al met die kus langs te stap. Hy weet daar is ‘n navorsingspan wat daar erens langs die kus kampeer. Hy moet by hulle uitkom. Hy neem die bietjie drinkwater wat hy het, en begin stap. Uiteindelik bereik hy die kus. Dit neem nie lank vir sy water om op te raak nie. Hy besef sy posisie is benard. Hy strompel voort, en bid vir krag om aan te gaan. Hy kom op wrakstukke van ‘n skip af wat lank gelede vergaan het. Hoopvol soek hy deur die wrakstukke na enigiets van waarde. Niks nie. Moedeloos sak hy neer op die sand, en bid dat die Here hom sal help. Hy stut hom met sy hande in die sand agter hom, en voel iets daar. Dis ‘n bierbottel. En nog een. Met bier in. Hy drink die bier. Hy vee die bottel skoon. Sy oog vang die inskripsie op die bottel: By appointment to His Majesty the King. Die biermaatskappy was gemagtig om bier te verskaf aan die koningshuis. Dis King George VI, oorlede in 1952. Van der Merwe besef daardie dag, His Majesty The Kind of King Jesus Christ het bepaal dat daardie twee biere in die sand begrawe moes bly vir wie weet hoeveel jare tot daardie oomblik dat een van sy kinders dit nodig sou hê. Bier was die beste ding wat hy kon drink. Dit gee hom die koolhidraat en hidroliete wat hy nodig het om aan te stap tot by die navorsingspan. [Met erkenning aan Willem Klopper, tans pastoor in Vanzylsrus in die Kalahari]. ‘n Greep uit die lewe van die profeet Elisa opgeteken in 2 Konings 4:38-41 illustreer treffend dat God kan ingryp in die mees hopelose situasies. Jy is welkom om saam met my hieroor te besin.
Rebecca St James is een van die groot name in die kontemporêre Christelike musiekwêreld. Sy is gebore in Australië. Haar pa het groot musiekbyeenkomste gereël in Australië, en was baie suksesvol. Maar om een of ander rede misluk een van die toere wat hy reël, en hy sit met ‘n halfmiljoen dollar se skuld en die gesin verloor alles. Die gesin verhuis na die VSA in 1991. Die werk wat haar pa sou ry, materialiseer nie. Hulle is brandarm, en afhanklik van mense se goedhartigheid om te oorleef. Sy het ‘n film gemaak oor die gesin se ervarings, Unsung Hero. Sy sê in ‘n onderhoud met Crosswalk Headlines die volgende: “If I have a takeaway from the film that I pray people will take away, it’s hope, and it’s that God redeems our story, no matter how hard it gets. And I think a lot of people are discouraged in our world today. They’re discouraged about marriage, they’re discouraged about family life, they’re discouraged about faith. A lot of people, I think, need hope and need to be reminded that God is the great redeemer of our story and of our life.” Daar is drie waarhede wat die Bybel ons leer oor God wat ‘n mens se hele lewe verander as jy dit werklik ter harte neem. Hierdie waarhede dra jou deur die moeilikste tye, nie net nou nie, maar reg deur jou lewe. Ek nooi jou om saam net my hieroor te besin.
Dr Winter, hoogsbekwame geneesheer in Chicago ‘n aantal jaar gelede word wakker gebel een uur die oggend. Hul benodig hom dringend by die hospitaal. ‘n Seun is ernstig beseer in ‘n ongeluk. Daar is niemand wat so bekaam is soos Dr Winter nie. As daar iemand is wat die seun se lewe kan red, dan is dit Dr Winter. Daar is ‘n kortpad deur een van die berugste buurtse in Chicago. Dis ‘n baie gevaarlike roete, maar tyd is min om die seun se lewe te red. Hy waag dit. By ‘n verkeerslig word die motor se deur oopgeruk en ‘n man sleep hom uit. “Ek het jou kar nodig,” is al wat hy sê. Dr Winter probeer verduidelik dis ‘n noodgeval, maar die man gee hom nie kans nie. Dit neem die dokter meer as 45 minute om by ‘n telefoon te kom. Toe hy by die hospitaal kom, is dit té laat. Die seun het gesterf. Sy pa was net betyds om by te wees toe hy sterf, sê hulle. Sal die dokter hom gaan troos in die kapel. In die kapel gekom, herken hy die pa. Dis die man wat sy kar geskaak het. Onwetend het hy die enigste persoon wat sy seun kon red, verhinder om betyds te wees. Ons kan so besig wees om te werk aan ‘n mooi toekoms, dit wat die Een wegstoot wat ons ‘n mooi toekoms belowe [Robert Strand. (1996) Moments for each other. Green Forest, Ar.: New Leaf Press]. Psalm 37:37 “Let op die vrome en kyk na die opregte, want daar is ‘n toekoms vir die man van vrede.” Ek nooi jou om saam met my te besin hieroor.























