Discover
Nuus
4999 Episodes
Reverse
Kry die nuus soos dit breek.
Die Namibië Groenwaterstofprogram het die sluitingsdatum vir projekvoorstelle onder Namibië se Sektorale Transformasie-beleggingsplan verleng tot 1 Februarie 2026 vanaf die aanvanklike sluitingsdatum van 30 November 2025. Die projek beoog om tot 250 miljoen Amerikaanse dollar in befondsing te ontsluit vir private en openbare-private projekte in moeilik-afskafbare sektore soos staal, sement, chemikalieë en meer. Die program se woordvoerder, Jona Musheko, het met Kosmos 94.1 Nuus gepraat.
Adjunkpresident Paul Mashatile sê die G20-leiersberaad het die belange van Afrika en die Globale Suide in die middelpunt van wêreldwye besluitneming geplaas. Hy het die 58ste algemene vergadering van die Suider-Afrika-ontwikkelingsgemeenskap se parlementêre forum toegespreek. Mashatile het verskeie verbintenisse van G20-leiers uiteengesit, insluitend steun vir skuldbehandeling-hervormings, verbeterde verteenwoordiging van Afrika suid van die Sahara binne die Internasionale Monetêre Fonds en wêreldwye hernubare energieteikens:
Unam het, in vennootskap met die Africa Blockchain-instituut, 'n goedgekeurde Meestersgraad in Blokkettingtegnologie van stapel gestuur wat daarop gemik is om Namibië as 'n streeksentrum vir blokkettingnavorsing en -talent te posisioneer. Groeiende belangstelling van die openbare en private sektor, tesame met praatjies oor 'n potensiële digitale geldeenheid van die sentrale bank, het die inisiatief aangevuur. Unam-woordvoerder Simon Namesho het aan Kosmos 94.1 Nuus gesê dat 'n opname van belanghebbendes meer as 70 persent steun vir die program getoon het.
Werkloosheid in Namibië het krisisvlakke bereik en die regering sal daadwerklike pogings moet aanwend om die private sektor en buitelandse beleggers te lok om in te spring en dié probleem te help oplos, sê dr. Chris Brown, uitvoerende hoof van die Namibiese Kamer van die Omgewing. Hy het met Kosmos 94.1 Nuus gepraat:
Suid-Afrika se bek-en-klouseer-uitbreking hou steeds plaaslike 'n risiko in. Die voorsitter van die Lewendehawe Produsente-organisasie, Jako van Wyk, het aan Kosmos 94.1 Nuus gesê dat Namibië sy bek-en-klouseervrye status moet beskerm voor toenemende vakansiereise vanuit Suid-Afrika. Hy het gewaarsku dat 'n uitbreking alle dierebewegings en -bemarking sal stop, produsente se inkomste sal afsny en uitvoere, wat twee derdes van Namibië se vleisproduksie uitmaak, sal belemmer.
Die leier van die GOOD-party, Patricia de Lille sê die Unite for Change-beweging is 'n kans om Suid-Afrika se toekoms te bepaal. De Lille het in Soweto, tydens die Unite for Change-veldtog wat bestaan uit BOSA, die GOOD Party en RISE Mzansi, die huidige leiers gekritiseer vir die uitbuiting van mag, diefstal en hul ignorering van die beginsel dat die mense moet regeer. Sy sê Build One South Africa, RISE Mzansi en die GOOD Party het verenig om verantwoordbare leierskap te herstel:
John Kerry, voormalige Amerikaanse minister van buitelandse sake in die Obama-administrasie, is tot ereridder deur koning Charles III geslaan. Terwyl dit hom nie toelaat as Sir bekend te staan nie, is dit steeds ‘n groot eer wat aan hom toegestaan is as gevolg van sy werk vir die omgewing en die bekamping van klimaatsverandering. Hy het met Christiane Amanpour van CNN gepraat.
Krieket: Joe Root van Engeland glo 'n reeks soos die As, gegewe sy gewildheid, hoef nie 'n pienkbal-toets in te sluit soos die een wat van Donderdag af op die Gabba gespeel word nie. Hy het in elk van Engeland se sewe vorige dag-aand-toetse gespeel, waarvan hulle slegs twee gewen en vyf verloor het. Australië het 13 van hul 14 dag-aand-toetse gewen. Root sê dit sal moeilik wees om met die pienk bal te speel teen Australië se aanval in die toestande in Brisbane:
Vandag is Wêreld-vigsdag. Een van die nuutste deurbrake in die behandeling van die siekte is die vrystelling van Lenacapavir. Die middel wat een inspuiting elke ses maande behels, kan infeksie voorkom in hoë-risiko omgewings. Ten spyte van die mediese deurbraak is die middel nie beskikbaar vir almal nie. Die gesondheidsminister Esperance Luvindao het in Otjiwarongo gepraat by die amptelike herdenking en sê die middel is eenvoudig te duur.
President Cyril Ramaphosa sê die uitwerking van Suid-Afrika se G20-presidentskap strek verder as die hartlike verwelkoming vir en die onvergeetlike ervaring van besoekers. Hy het die land ingelig oor die sukses van die G20-leiersberaad, die eerste wat op Afrika-bodem gehou is. Hy sê Suid-Afrika het Afrika se groei en ontwikkeling in die hart van die G20 se agenda geplaas en dit gedoen terwyl die wêreld ingewikkelde uitdagings in die gesig staar:
Die bekroonde skrywer Salman Rushdie sê dat kunsmatige intelligensie nooit werklik oorspronklike kuns kan skep nie. Hy sê die kenmerke van kuns is emosie, humor en kreatiwiteit en KI kan net dupliseer wat hy gevoer word. Hy het met Sky News gepraat.
Ons is vandag op die sewende dag van die 16 Dae van Aktivisme teen vrouegeweld. Intussen is twee vroue vermoor, twee verkrag en een kind verwaarloos. Kosmos 94.1 Nuus het met maatskaplike aktivis en direkteur van Civic +264, Ethne Mudge, gepraat. Sy meen dit is van kritieke belang om seuns en mans by die veldtog te betrek.
Kry die nuus soos dit breek.
Die Namibiese regering vestig sy hoop op ekonomiese herlewing op landbou en vertrou op jongmense om die verskuiwing te dryf. Maar met baie jongmense wat huiwerig is om op plase te werk, waarsku kenners dat die plan onrealisties mag wees. Ekonoom Omu Kakujaha-Matundu het aan Kosmos 94.1 Nuus gesê dat tensy jongmense werklik bereid is om na die grond terug te keer, die strategie sal misluk. Hy het meer.
Die amptelike opposisie, die IPC, se ondersteuning het skerp gedaal. Die party het in 2020 vir die plaaslike owerheid 21 persent van die ondersteuning verower teenoor 15 persent vanjaar. Die streeksraad ondersteuning het van 17 persent tot 12 persent gedaal. Die party se parlementêre leier, Imms Nashinge het aan Kosmos 94.1 Nuus gesê hulle het nie swak gevaar en die syfers is te wyte aan die Verkiesingskommissie se wanorde en hulle mislukking om kieserapatie aan te spreek.
Namibië het weer pak gekry by COP20 en is toestemming geweier om in renosterhoring te handel, sowel as om sy ivoor voorraad te verkoop. HORN Namibia is by Cites se wat tot 5 Desember in Oezbekistan plaasvind en Jaco Muller van Rhino Momma is ook daar namens HORN. Hy het met Kosmos 94.1 Nuus gepraat oor hoe die tameletjie opgelos kan word.
Die Springbok-sewespan het vyfde gekom by die Dubai-sewes. Suid-Afrika het Groot-Brittanje met 34-0 afgeransel en Spanje met 21-12. Intussen het Nieu-Seeland Australië met 26-22 geklop om die toernooi te wen terwyl Fidji derde is nadat hy Frankryk met 24-7 verslaan het. Die Blitsbokke se afrigter, Philip Snyman, sê hulle het nie volgens hul eie verwagting presteer nie, maar beklemtoon hulle sal die naweek in die Kaapstad Sewes daarvoor opmaak:
Kry die nuus soos dit breek.
Die burgemeester van Kaapstad, Geordin Hill-Lewis, dring aan op onmiddellike stappe om die skuldigbevindingsyfers vir bende-, vuurwapen- en dwelmmisdade te verbeter nadat die jongste kwartaallikse misdaadstatistieke hoë geweldmisdaad toon. Die Burgemeesterskomiteelid, Lyndon Khan sê die stad bied hulpbronne aan, insluitend dossiere wat gereed is vir vervolging, beamptes van die Wetstoepassing se Bevorderingsplan en Metropolisie ondersteuning. Hy sê die waarnemende minister van Polisie word versoek om munisipale polisiëringsmagte uit te brei en die SAPD dringend te bemagtig om skuldigbevindings te verbeter:




