Met Nicolien se terugkeer na Bloubaai kry sy ʼn getraumatiseerde Dylan in die hospitaal. Wie sit agter die skietvoorval waarin hy ernstig gewond is? Het dit iets met sy vriend Godfrey te doen wat ná ʼn mislukte perlemoenduik dood is? Nicolien en Willie is met rede bekommerd oor Dylan se situasie.
Engela hoor skokkende nuus by Tannie Ouvrou oor Visstok se ma, en dit gaan haar besluit oor Visstok se verloofring beïnvloed. Bobbi wil nie aanvaar dat Bloubaai nie onder die wendorpe vir die Afrikaans 100-fees is nie. Hoe gaan Dylan die slegte nuus oor die fees verwerk?
Mauritz kry ʼn groot verrassing. Willie ontbied vir Nicolien en Mauritz na die strand waar hulle iets sien wat nog nooit op Bloubaai gesien is nie en wat sosiale media aan die gons het.
Bobbi besoek Dylan in die hospitaal waar sy slegte nuus aan hom moet oordra. Dylan neem die hospitaal om al die verkeerde redes op horings. Bobbi is verras om Willie in die hospitaal se kafeteria te sien … Hy is inderhaas daarheen ontbied.
Oom Fred is steeds op een van sy onbekende missies in die Kaap. Tannie Ouvrou en Mauritz neem weer die gebeure van die skietery by Bobbi se troue in oënskou. Mauritz vertel haar van verdagte persone en ʼn motor wat albei onrustig maak.
Engela sukkel om die pot aan die kook te hou, nadat die fooie van die kleuterskool skielik onverklaarbaar verhoog is. Tannie Ouvrou is steeds die josie in vir Oom Fred oor hy haar nie in sy vertroue geneem het nie. Sy voel skuldig oor sy Engela se verhouding met Willie benadeel het.
Engela word deur almal gelukgewens met ʼn nuwe pos by Die Seekat, maar sy weet niks daarvan nie. Sit Jack agter alles? Willie en Engela se verhouding bereik ʼn laagtepunt. En daar’s vuurwarm nuus vir Bloubaai oor die Afrikaans 100-kompetisie.
Tannie Ouvrou en Nicolien besoek Dylan in die hospitaal, maar hoe is dit dan dat hy meer weet wat in Bloubaai aangaan as hulle? Die suster deel haar kommer oor ʼn onbekende geheimsinnige besoeker aan Dylan.
Nicolien en Mauritz se liefde blom op die strand. Mauritz vertel van sy groot planne, maar sluit dit Nicolien in? Willie praat sy mond verby, en dit bring spanning tussen die jong verliefdes.
Visstok en Engela is besig om haar nuwe tuin reg te ruk. Hulle ontdek ʼn vergete kabouterstandbeeldjie in die motorhuis, maar hulle planne daarmee word deur Betta kortgeknip.
Tannie Ouvrou kry ʼn verrassing toe Bobbi met ʼn groot rugsak by die losieshuis opdaag. Dit maak seer herinneringe wakker, maar dit troos ook. Mauritz kry kosbare raad by Tannie Ouvrou, want hy’s in ʼn moeilike situasie.
ʼn Heerlike middag op die strand vir Nicolien en Mauritz word deur ʼn onwelkome gas onderbreek. Nicolien moet haar soektog na haar biologiese pa verskerp om sy mediese rekords te kry. Visstok werf mense vir ʼn baie belangrike vergadering.
Dis duidelik Dylan steek dinge weg vir Bobbi toe sy hom in die hospitaal besoek. Bobbi het nuus vir Dylan oor veranderinge in haar lewe wat ook sy lewe gaan raak. Sy raas met hom oor sy vriende, en haar besoek eindig glad nie goed nie.
Engela vra Willie om verskoning vir haar gedrag. Is Jack se aanbod aan haar om by Die Seekat te kom werk iets van die verlede? Tannie Ouvrou gee inligting vir Willie oor Dylan en die verdagte sigaretstompies en besoeker.
Die Afrikaans 100-vergadering by Engela lewer interessante dinge op. Oom Fred is terug in die dorp ná sy geheime Kaapse besoek. Visstok is gespanne oor sy ma se siekte. Dan lui sy selfoon, en hy verlaat die vergadering.
Mauritz kry ʼn e-pos wat sy lewe en Nicolien se lewens omkeer. Is dit die einde van hulle liefde? Dylan bel Tannie Ouvrou met ʼn versoek wat sy nie kan weier nie, maar dis iets wat haar vorentoe baie besig gaan hou.
Sedert Mauritz se vertrek na die Kaap, waai die noordwester asof die wind self omgekrap is oor die Strandloper wat weg is. Is Mauritz se vertrek die einde van die verhouding tussen hom en Nicolien, of is dit die begin van ʼn nuwe era in Bloubaai?
Oom Fred gee vir Engela kosbare raad. Jack de Wet versterk sy pogings om Engela terug te lok na Die Seekat-restaurant. Betta verras Oom Fred op ʼn ongemaklike plek en tyd.
Dylan werk hard aan die vooruitsig om met die Afrikaans Amptelik 100-kompetisie roem te verwerf. Tannie Ouvrou waarsku dat hy so gou as moontlik die waarheid aan kaptein Van Niekerk moet vertel omtrent die aanslag op sy lewe.
Oom Fred het sy hande vol terwyl hy instaan by Dylans. Dylan is kaatjie van die baan terwyl hy aansterk ná die skietvoorval wat hom amper sy lewe gekos het. Hy dink hy kan Stefan ompraat om by Dylans te begin werk. Oom Fred weet van beter. Stefan het egter belangriker sake om afgehandel te kry.