Discover
Vers en Klank
712 Episodes
Reverse
Anrich Herbst en Jana Kruger lees gedigte oor die feestyd voor. Daar is die bekende, meer gewyde verse deur van die ou meesters soos NP van Wyk Louw en AG Visser, en ook ’n paar verrassings wat jy dalk nog nooit voorheen gehoor het nie.
Protea Boekhuis het vroeër vanjaar ’n bloemlesing van die gedigte van Marlise Joubert saamgestel. Dié pragtige bundel se naam is ATRIUM. Joubert is een van die prominente vrouestemme in die Afrikaanse letterkunde, en publiseer die afgelope 55 jaar gereeld. Daar het al elf digbundels uit haar pen verskyn. Susanne Beyers lees van Joubert se werk voor.
Protea Boekhuis het vroeër vanjaar ’n bloemlesing van die gedigte van Marlise Joubert saamgestel. Dié pragtige bundel se naam is ATRIUM. Joubert is een van die prominente vrouestemme in die Afrikaanse letterkunde, en publiseer die afgelope 55 jaar gereeld. Daar het al elf digbundels uit haar pen verskyn. Susanne Beyers lees van Joubert se werk voor.
Die digter, Pirow Bekker, is in Julie 2025 oorlede. Hy sou op 9 Desember sy 90ste verjaarsdag gevier het. Ons luister na ’n spesiale program deur Sophia van Taak en De Klerk Oelofse ter herdenking van hierdie geliefde kortverhaalskrywer en digter. Bekker het oor ’n loopbaan van 60 jaar niks minder nie as 12 digbundels die lig laat sien, waarvan die laaste versameling, Die Bloei van Blomme, eers ná sy dood verskyn het.
Dis uiteindelik Desember, en nou begin jy die slapies aftel na die dag wat jou verlof begin. Maar daar is ook mense wie se werk nooit ophou nie: dit is die huisvroue. Hulle moet steeds sorg dat die huis netjies, die wasgoed gedoen en die kos lekker is. Nicole Holm lees gedigte voor oor die irritasies van die arme huisvrou.
Sophia van Taak praat met Herman Wasserman oor sy eerste digbundel, WATERMAN, wat onlangs verskyn het. Herman staan aan hoof van die Stellenbosch Universiteit se Departement Joernalistiek, en hy is bekend vir sy talle akademiese publikasies. Hy beskou die digkuns as ’n teenvoeter vir die akademie, ’n meer kreatiewe platform waarop hy temas soos die verband tussen broosheid en skoonheid kan verken, en ook kan skryf oor dinge soos medelye, manwees en die verrassende vreugdes van ouerskap.
Sophia van Taak praat met Thérèse Bartman oor haar debuutbundel, Die helfte is jou nie vertel nie. Thérèse dig oor ’n hele paar hedendaagse én geskiedkundige karakters wat nie geletterd was of is nie. Gevolglik word hierdie mense se stories en stemme ook nie so duidelik soos die res s’n gehoor nie. Daarom het sy besluit om haar gedigte van die geskrewe taal los te maak en dit eerder as klankgrepe op te neem. Dié toonsettingsprojek het sy saam met die musikant Quintin Goliath – ook bekend as Jitsvinger – aangepak.
Was jy al ooit by die sirkus? Vroeër jare het daar gereeld ’n sirkus deur Suid-Afrika getoer, en wanneer die manne die groot tent op jóú dorp begin opslaan het, kon ’n mens die afwagting sommer aanvoel! Marion Holm gedigte voor oor die hansworse, toertjies en akrobate.
Sophia van Taak gesels met die transtalige digter, Klara du Plessis wat uit Kanada op besoek is in Suid-Afrika. Du Plessis se digbundel, Ek’t / Act (ja, dit bevat Afrikaanse sowel as Engelse verse!) het onlangs verskyn. Hulle praat oor oor dinge soos: die fyner klanke wat tussen musieknote lê, die impak wat ’n landskap op ’n mens se kreatiwiteit het, en hoe die konteks van ’n verhouding of ’n situasie bepaal in watter taal jy daaroor dink én dig.
Die digbundel, Merang, is ’n splinternuwe Afrikaanse bloemlesing wat onlangs by Naledi-uitgewers verskyn het. Dit bevat voorheen ongepubliseerde gedigte van altesaam 88 digters, en dek ’n breë spektrum van temas – van die liefde, landskappe en spiritualiteit, tot queer-identiteit, sosiopolitieke kwessies en kunstenaarskap. Sophia van Taak praat met die twee samestellers, Alwyn Roux en Neil Cochrane, oor hierdie projek.
Daar iets nostalgies omtrent treine. Dalk is dit die ouwêreldse sjarme van swierige kompartemente; dalk die groot krag en persoonlikheid van die stoomlokomotiewe van ouds. Deesdae neem sneltreine en moltreine jou in ’n japtrap tot waar jy wil wees, maar ’n generasie of twee gelede was ’n treinrit ’n okkasie, ’n avontuur op sy eie. En jy het dit alles ingeneem – van die stadige gewieg van die trein en die landskappe wat buite die venster verbyskuif, tot die geklik-klak van die wiele op die spoor, die gefluit van die enjin en die reuk van die roet. André Terblanché se gedigvoorlesings neem ons op ’n reis vol heimweë terug na die tyd van treine.
Oktober is Geestesgesondheid-bewusmakingsmaand. Hoewel dit ’n goeie idee is om dinge soos depressie, angs en psigiese versteurings onder die vergrootglas te plaas, is mense steeds skaam om daaroor te praat. Daar kleef steeds ’n stigma aan iets soos depressie, en dit maak dat mense wat hiermee sukkel twee keer dink voordat hulle vir hulp vra. Partykeer kry ’n mens ook nie die regte woorde raakgevat om vir ander te beskryf hoe jy voel nie. Dít is waarom Marion Holm gedigte oor depressie in al sy gedaantes voorlees.
Sophia van Taak en die voorlesers, Wessel Pretorius en Nienke Geldenhuys, reis verder deur Namibië. In die vorige episode het ons na gedigte oor veral die woestyn en die verlate strande vol skeepswrakke geluister. Hierdie keer handel die verse meer ook die diere- en plantelewe van dié dorre streke. Ons gaan sit by ’n watergat in Etosha en kyk watter wild kom drink. En dan vaar ons ook die duine in op soek na die skaars welwitschia.
Sophia van Taak en voorlesers Nienke Geldenhuys en Wessel Pretorius neem ons op reis deur Naimbië. In die eerste van twee programme toer ons van die Oranjerivier af al langs die kus op tot by die Kunenerivier. Langs die pad doen ons ook aan by ’n paar van Namibië se bekendste landmerke. Daar is gedigte deur Kobus Lombard, Daniel Hugo, Ronnie Belcher, Wilma Stockenström en vele meer.
Dink jy ooit oor water? Vir die meeste van ons is dit maar net ’n gewewe – dis daar as jy ’n kraan oopdraai! Maar laat jy nou net nié water hê nie, dan is dit ál waaraan jy kan dink. Water is eintlik so ’n wonderlike ding. Dis so kragtig. Dit maak lewe moontlik. Ek en jy het beslis ook ’n spirituele konneksie met water. Sophia van Taak en voorleser Nienke Geldenhuys verken dié oerelement se kenmerke en effek.
André Terblanché lees gedigte oor die lente voor. Natuurlik kan jy uitsien na bekende gedigte, soos Leipoldt se OKTOBERMAAND, asook sy LENTELIEDJIE. Maar daar wag ook ’n paar verrassings, verse wat jy dalk nog nooi tevore gehoor het nie en ’n paar vertalings wat vertel hoe dié jaargety in ander wêrelddele lyk.
Sophia van Taak praat met Marthé McCloud oor haar debuutbundel, ONTBLOOT. Dié afgetrede maakskaplike werker van die Strand se gedigte lees soos ’n memoir. Hoewel Marthé heelwat oor haar eie ervarings uit verskeie eras van haar lewe skryf, bly die temas wat sy aanroer steeds universeel relevant. Vanweë haar loopbaan in maatskaplike werk dig sy ook oor veral kindertrauma.
Ons reeks oor die digter George Weideman kom tot ’n einde. Johann Nel lees van sy gedigte voor uit die versamelings, ’N STANING ONDER STERRE en VERSKOMBUIS: ’N KOOKBOEK MET GEDIGTE.
Sophia van Taak en voorleser Johann Nel sit die reeks oor die lewe en werk van die digter George Weideman voort. In hierdie aflewering kan jy uitsien na gedigte uit Weideman se bundels HOERA, HOERA DIE YSMAN en UIT HIERDIE GRYS VERBLYF.
Sophia van Taak en voorleser Johann Nel begin met ’n nuwe reeks oor die digter George Weideman se lewe en poësie. Daar is voorlesings uit Weideman se eerste drie bundels, HONDEGALOPPIE, AS DIE SON KLIPLANGS SPRING en KLEIN MANIFES VAN ’N REISIGER.





