Discover
Ronell Bezuidenhout: Daaglikse meditasie-potgooi en Veelkleurig-onderhoude

Ronell Bezuidenhout: Daaglikse meditasie-potgooi en Veelkleurig-onderhoude
Author: Ronell Bezuidenhout
Subscribed: 0Played: 1Subscribe
Share
© 2023 Ronell Bezuidenhout: Daaglikse meditasie-potgooi en Veelkleurig-onderhoude
Description
Luister na daaglikse potgooie met geloofsnadenke deur die teoloog en leraar, dr. Ronell Bezuidenhout. Jy kan beslis verwag om uitgedaag te word. Ronell se fokus is om “hoop” deur haar boodskappe bring. Die bedoeling daarvan is om jou te inspireer om elke dag bruisend aan te pak. Die kort potgooie word elke oggend vroeg gelaai. Luister op jou selfoon of enige rekenaar: dalk saam met jou oggendkoffie, op pad skool of werk toe, of selfs as jy net rustig in die natuur wil asemskep. Ronell sê sy skryf nie "dagstukkies" nie; sy bied daaglikse toerusting wat jou uitdaag om die "vaste kos" van geloof te verteer. "Die lewe is vir niemand maklik nie, maar dit hoef ook nie te wees nie! Jy het altyd 'n keuse hoe jy die lewe benader.” Hierdie meditasies wil jou help met daardie daaglikse keuses. Ronell is een van die eerste vroue-predikante van die NG Kerk. Haar beroepsroete het haar via Port Elizabeth (1990-2003) en Johannesburg (2003-2018) tot na die kusdorpie, Groot-Brakrivier, gebring, waar sy nou by 'n Lutherse gemeente in Rondevleihoogte betrokke is. Sy is 'n gevestigde skrywer, wat oorwegend aandag gee aan die interpretasie van antieke geloofsgewoontes vir moderne, besige mense. Vele boeke het al uit haar pen gekom. Sy bedryf ‘n groeiende digitale bediening, reis landswyd as gasprediker, retraite-aanbieder en geleentheidspreker en as 'n geloofsbegeleier ondersteun sy selfs mense buite Suid-Afrika.
594 Episodes
Reverse
Nee, ek wil nie dadelik – passievol – wegval met gedagtes oor gebed nie. Daar is eers ‘n getuienis wat van my kant af nodig is: soos baie ander het ek ook die stereotipiese “ek bid teen die dak vas”-ervaringe gehad. Ook ek het vir ‘n stadium “sommer-net” ophou bid. (En later selfs my behoefte om te bid verloor!) Waarom? Omdat gebed vir my so “futiel” gevoel het. Ja, ek het baie skuldig daaroor gevoel, want al was ek nie ‘n bidder nie, was ek ‘n getroue bybelleser. Wat sê dit van my geloof - ek was al reeds ‘n jong dominee! Dit was nog nooit vir my moeilik om in die openbaar te bid nie; ek kon selfs eerlik en ernstig en toegewyd voor mense bid. Maar waarom kon ek nie tuis nie? 1 Joh 3:18 het ek soms so bietjie verander, want ek het geweet dat my lustelose gebedslewe inpas by wat Johannes sê: “Julle (gebeds)woorde moet nie net lippetaal wees nie, maar dit moet opreg wees.” Maar in al die tyd dat ek die “biddelose dominee” was, was ek van een ding seker: my ma en my pa bid elke aand hardop vir my! Dit was my grootste troos. Húlle hou my naam voor die Here, elke aand. My naam is immers in God se hand ingegraveer (Jes 49:16). Maar een teks (Rom 8:26) was my reddingsboei: Die Gees staan ons ook in ons swakheid by: ons weet nie wat en hoe ons behoort te bid nie, maar die Gees self pleit vir ons met versugtinge wat nie met woorde gesê word nie. En net so kom ook die Gees ons swakhede te hulp, want ons weet nie reg wat ons moet bid nie, maar die Gees self tree vir ons in met onuitspreeklike sugtinge. God gaan my nie hieroor los nie. Jy mag dalk vandag die een wees wat met skuldgevoelens sit omdat jy nie kan bid nie. Onthou dan hierdie beginsel: Die heel eerste gebed begin by God sélf: waar God (die Gees) met God (die Vader) self praat. As jy ‘n sukkelende bidder is, lees vandag, oor-en-oor, Rom 8:26-28 totdat jy Paulus se belofte verstaan..
'n Laaste dag staan altyd op die glypunt van oud en nuut. Blinkgepoets het 1 Augustus ons ingewag en voila, vandag is ons by “terugkyk-dag”: ons het sowaar die maand oorleef! Vir baie was dit 'n sukkelmaand, maar God sy dank, vir baie ook 'n oorleefmaand; selfs 'n dankbaarheidsmaand. In my verjaarsdagmaand, nogal op my geboortedag, is klein Lea gebore, ons jong buurvrou-mamma wat self dodelik siek was met COVID. Dit word vir ons nou ons lofliedmaand. Ek nie daar is 'n ander maand in die jaar wat met soveel vreugde gegroet word as Augustus nie. Net môre breek die lente aan ... selfs al voorspel wie ook al die koudste aankomende front. Formeel is die wintermaande verby! Môre, so neem ek myself voor, besoek ek 'n plaaslike kwekery. Al is dit net simbolies, om myself te herinner dat die gevoel van “versteentheid” stukkend gekap word. Dit is mos was Eseg. 11:19 beloof: “Ek sal hulle 'n ander hart gee en 'n nuwe gees onder hulle laat posvat, Ek sal die kliphart uit hulle liggaam verwyder...”Hoe ouer ek word, hoe meer weet ek dat “Blom Waar Jy Geplant Is” - soos vinkel en kolander – die pasmaat is van Gebed. Ons kan nie oor 'n blommende lewe praat as ons nie ook oor 'n biddende lewe praat nie. Vaselfsprekend is “Bid Saam!” ons lente-tema: Bid vir my dat ek kan blom; soos ek vir jóú bid om te blom. In die Nuwe Testament kom die beginsel van “bid saam” baie meer na vore as die beginsel van “gaan eenkant toe om te bid”. Jesus leer ons mos juis dat waar twee of drie in God se naam bymekaar kom, daar bid God ook saam (Matt. 18:20). Daarom dat ons ook in September 'n voorbiddingspan het wat vir iemand wil bid wat gebed nodig het! Bid vir ander sodat ander kan blom! Dit is ons roeping.Ons hou nie op in Augustus te blom nie. Inteendeel! Ons begin nou maar eers! Die grootste blom wat ons kan aanbied vir die wêreld is ons gebedsblom. Ek vra jou ook, kom BID SAAM!HereMaak van ons Bidders wat opwaarts rank sodat ons blomme-van-gebed vêr buite selfs ons eie bereik kan groei.www.ronellbezuidenhout.co.za
“Loof die Here, die Here van die bome, van die groen ou eike. Díe wat blink in die son is, wat roer in die winde, voëls laat sing. Loof Hom! Hy wat laat groei, gras en blaar en boom. Hy wat skadu maak en son se skroei. Niks maak soos Hy alles heel en bly nie. Hy weet wat die mens droom, ver van Hom, en naby. Hy weet van ‘n dag so heel soos díe. Hier waar die wit rose staan en mense soetjies-soetjies gaan, soos ek.”* Ja, loof die Here! Hy wat die afgelope 17 maande saam met ons op reis was – ‘n reis na binne en na buite. Sodat ons met nuwe oë begin kyk het na klein dingetjies, en soms verras is deur vreugde. Om te kan blom waar ons geplant is. Soos toe ek die eerste keer die bloupers blommetjies van die aartappelplant raakgesien het, daar waar dit aanhou blom het dwarsdeur die grendeltyd. Dit was my troos by die kombuisvenster agter die diefwering. Ook die Iceberg wat spook om son te vang in sy donker hoekie, en tog sy roosknoppies oopvou. Kyk net hoe pronk die vier Aronskelke! Oral langs die paaie blom hulle in massas soos die lelies van die veld. Só verras U ons ook nog met die vreugde van ‘n sonsondergang! “En net toe ek dink U is weg, vir goed, breek U skielik los in shocking pienk en oranje, Here, weergaloos! U vee, vee deur die daisy-blou lug,en strek U uit tot by die eindes van die see. Dan rus U eers sag in wollerige roos-rooi, trek oranje rafels uit na die Weste, voor U in een groot boog U toevou en amper verdwyn…Nee! In ‘n laaste weerligstraal van purper en pienk flits U vir oulaas, en sein vir my: oor en uit. Tot volgende keer.”* Blom waar jy geplant is! Skrywer: Kristie Herbst, aktrise en digter van Bellville. * Hierdie is 2 van haar gedigte. GebedHere, verras my!Verras my deur balddadige kleure en geureVerras my deur die nuwe lewe aan die bomeVerras my deur nuutheid in my eie lewe te bring.
Daar is ‘n liedjie wat my bybly sedert my kinderdae: “En dit is die Here wat voor jou uit trek; Hy sal met jou wees; Hy sal jou nie begewe of verlaat nie; jy mag nie bevrees of verskrik wees nie” (uit Deut 31:6). Ek het altyd gedink vrees is nét ’n interne faktor, ’n emosie, iets wat van binne kom en jou hart vasgryp. Sou dit by my opkom, sal ek dit gewoonlik afsluk met ’n “Ek sal nie vrees nie.” Dan los die vrees op soos vet in handy-andy. Maar daar is ’n ander vrees ook. Dit kom van buite. Dis ’n eksterne faktor wat ’n voet in die deur van jou siel soek. Ek het eendag in my geestesoog vrees sien aankom soos ’n donderwolk: iemand het gebel met slegte nuus; dit sou my onderneming ’n vinnige dood laat sterf. Ek het vir die wolk gekyk en gesê: Ek sal nie vrees nie! Die wolk het omgedraai met die wind. Wonder bo wonder het daar later die week ’n oplossing gekom en kon ek voortgaan. Het ek daardie dag oor die foon iets anders gesê, sou die vrees-wolk moontlik ingekom en die beplande skade aangerig het. Die oplossing sou nooit sy verskyning gemaak het nie. Dit was nie genoeg dat ek dit nét dink nie, ek moes dit hardop sê ook. Dit het my lewensmotto geword, my swaard: Ek bly in ’n gewelddadige land. Maar, ek sal nie vrees nie. Punt.Ek ry by Sani-pas op en ek het erge hoogtevrees. Ek sal nie vrees nie. Punt.Die volgende salaristjek is nie gewaarborg nie en werk is skaars. Ek sal nie vrees nie. Punt.Daar is ’n virus wat mense links en regs om my doodmaak. Ek sal nie vrees nie. Punt. Die Here is met ons. Hy sal ons nooit begewe of verlaat nie. Sy lig gaan voor ons uit en maak vir ons ’n pad in die donker. Ons hoef nie te vrees nie. Punt.Ingrid Stegman, ‘n projekbestuurder van Pretoria. HereU is die rede waarom ek nie hoef te vrees nie.
Ons het kennis gekry dat 'n goeie vriend se vrou gister oorlede is. Minder as 'n week gelede het hy met sy eerste chemo-behandeling begin. 'n Lang pad lê voor... Dit voel asof ek met my vuis hemel toe wil bal en sê, “Here, is dit nie genoeg nie!” Ek het 'n broertjie dood aan maklike antwoorde. (“Die Here sal nie 'n swaar las vir jou gee as jy dit nie kan dra nie.”) Hoe stel ons in iemand se geloofworsteling belang as ons te vinnig wil troos? Hoe anders as deur worstel kom ons by gemoedsrus op ons pleit: “Here, is dit nie genoeg nie”?Geen mens se troos kan troos soos God nie! Deur worsteling leer ken jy die Liefdevolle God op 'n vlak wat jy nooit andersins sou kon nie. Dan begin 'n mens begryp waarom Paulus gebid het: mag ons “begryp hoe wyd en ver en hoog en diep die liefde van Christus strek” (Ef. 1:18). Ons is bykans klaar met hierdie reeks en dit is dalk nou die regte tyd om weer terug te keer na Francis de Sales se uitdrukking: “blom waar jy geplant is.” Hy het verder hieroor verduidelik: “Waarlik, liefde het geen beperking nie; want die liefde van God is in ons harte gestort deur sy Gees wat in elkeen van ons woon. Dit is God se liefde wat ons tot 'n lewe van toewyding kan roep. Dit is God se liefde wat ons uitnooi om te blom midde die omstandighede waar Hy ons nou geplaas het.” Ek dink Francis de Sales het Paulus se gebed baie keer gebid: “Mag julle sy liefde ken, liefde wat ons verstand te bowe gaan, en mag julle heeltemal vervul word met die volheid van God.” Dan blom jy werklik. Selfs al gaan jy deur die diepste worsteling. Selfs al treur jy. Gebed:Hoe kan ek blom, as ek nie in die situasie wil wees waarin ek is nie.U liefde, Here, laat ek U liefde leer ken.En laat my blom!
(Toe) roep Jesus met 'n harde stem: “Lasarus, kom uit!” Die oorledene het uitgekom. Sy hande en sy voete was nog toegedraai met grafdoeke en sy gesig toegebind met 'n kopdoek. Jesus sê toe vir die mense: “Maak hom los dat hy kan huis toe gaan” (Johannes 11:43-44).· Wat met Lasarus gebeur: Nes Lasarus, is elkeen van ons in Jesus se verhaal van dood en opstanding ingebind. Dit vra ook vir jou: “Watter dinge in jou glo jy is dood”, waaroor Jesus dalk sê: “Dit slaap net”? Ons lewens is almal verganklik en tydelik. Maar dood gaan oor veel meer as net fisieke dood: dit gaan daaroor om “rock bottom” te slaan en te besef dat jy geen beheer het nie. Maar, as jy jouself oopstel om deur die vallei van die dood te loop, sal jy aan die anderkant uitkom by die Een wat sê: “Ek is die opstanding en die lewe.” · Wat ons van Jesus leer:Anders as wat ons dink, is Jesus se opstanding en lewe veel meer as ‘n eenmalige wonderwerk. Dit is wie Jesus in sy diepste wese IS. Jesus is altyd en in alle omstandighede besig met prosesse van lewe. Toe Lasarus daardie dag uitstap uit sy graf het hy nog die tekens van die dood aan hom gedra. Wat veronderstel was om die einde van sy pad te beteken, was die begin van ‘n nuwe manier van leef. Die opwekking van Lasarus herinner ons dat ons deur Christus altyd sal lewe. Ook al vra dit ‘n wonderwerk. God kan ons in alle vorme van dood in ons lewe ontmoet en Hy kan ook oor ons sê: “Maak hom los. Maak haar los. Dat sy kan huis toe gaan. Dat hy kan lewe.” Wat is dit wat jou nog vasbind en verhoed dat jy lewe? Skrywer: Marina Strydom, Predikant van Die Ooskerk, Pretoria Here, Maak my los van dít wat my verhoed om voluit te leef.
Soms is die lewe vir my moeilik. Daar is soveel swaarkry wat ek net nie kan begryp nie. Dit laat my aan Psalm 90:10 dink waar Moses juis die lewe beskryf as “vol swaarkry en leed”. Jy leef vir sewentig jaar, dalk tagtig, en dít gevul met swaarkry en leed. G’n wonder nie dat hy in vers 12 pleit, “Leer ons ons dae so gebruik dat ons wysheid bekom.” Laat ek tog net nie aan die einde van my lewe kom (die lewe wat soos ‘n oogwink verbygaan) en ek moet dalk ontdek dat ek my lewe “verkeerd” geleef het nie. Ek hoor baie keer dat mense sug en sê, daar moet tog meer aan hierdie lewe wees as net “werk-werk-werk” nie. ‘n “Malle gejaag” noem sommige dit. “Ons werk om besittings op te gaar net om weer aan die einde alles weg te moet gee.” Hoe lyk ‘n lewe wat met wysheid geleef word? Dalk help Moses se gebed twee verse verder as hy vra, “Skenk ons elke dag u liefde in oorvloed, dat ons ons lewe lank mag juig en bly wees” (90:14). Wat ‘n verwagting! Om aan die einde van jou lewe te kan sê, hierdie lewe was só die moeite werd dat ek “juigend en bly” my laaste asem kan uitblaas. Die Nuwe Testament skryf op verskillende maniere van ‘n lewe “juigend en bly” geleef. Jesus sê byvoorbeeld dat Hy gekom het om vir ons “oorvloediglik” lewe moontlik te maak (Joh 10:10). Nie om ons oorvol lewens nóg oorvoller te maak nie; maar juis om met groter vreugde te mag leef. Dit is mos waarom die Heilige Gees ook aan ons gegee is: die Gees wat ons inspireer om ten volle “lewend” te wees (aldus Ef 2:1 e.v.). Mense wat blom is húlle wat die gawe van die lewe soos ‘n kleinood bewaar. Mens wat blom leef juigend en vol blydskap, GEBEDHere,skenk ook aan my elke dag U liefde in oorvloed, dat ek my lewe lank mag juig en bly wees.
Hoe skryf jy ‘n Christelike dagstuk as jy nie ‘n teoloog is nie? Dit laat my terugdink aan ‘n ouer wat my 33 jaar gelede gevra het: “Hoe kan jy ‘n goeie onderwyseres wees as jy nie kinders van jou eie het nie?” My antwoord was eenvoudig: “Eerstens is ek lief vir kinders én ek het opleiding”Hoe kies ek dan my gunsteling teksvers? Dit voel soos om een van my drie seuns uit te sonder. Dit is gelukkig nooit vir ‘n ma nodig om haar liefde te verdeel nie, liefde vermenigvuldig.Ek dra drie teksverse ná aan my hart omdat dit feitlik elke situasie in my lewe direk aanspreek:“Ek is tot alles in staat deur Hom wat my krag gee” (Fil 4:13). Dit maak nie van my ‘n suksesvolle beroepsvrou met ‘n bultende beursie nie. Nog minder kan ek álles vermag. Ek kan wel my lewe met vreugde en entoesiasme leef, want ek ken die God van wie Paulus praat. “Ek weet wat Ek vir julle beplan, sȇ die Here: Voorspoed en nie teenspoed nie. Ek wil vir julle ‘n toekoms gee, ‘n verwagting” (Jer 29:11). Beteken dit niks slegs sal my en my gesin tref nie? Nee! Ek weet wel, dat watter hartseer of swaarkry of geweld ons mag oorkom, ek nie God daarvan hoef te “verdink” nie. “As God vir jou is, wie kan teen jou wees” (Rom 8:31)? Daar is oorgenoeg negatiwiteit, pessimisme en onvergenoegdheid aan die orde van die dag. Dankie tog dat God nie ook só is nie. Daarom kies ek ook doelbewus om mense my positiwiteit aan te bied. Ook jy kan vandag jou lewensingesteldheid kies! Met oorvloed liefde en genade van God mag jy ook elke dag hoopvol leef. Onthou, ons het ‘n eindelose Hoop - nie ‘n hopelose einde – in die ‘n vooruitsig!Skrywer: Linda Kapp is ‘n onderwyseres by Laerskool Helderkruin in RoodepoortGebed:Here, U is in beheer van vandag en van more. Dankie dat ek kan staatmaak op U goedheid, guns en genade.
Voorspellers sê dat daar in 2025 ongeveer 8.2 biljoen mense op die aarde gaan wees en meer as 18 biljoen selfone. Dit is omtrent 'n foon vir elke hand (én nog een vir die broeksak ook). Duidelik gaan mense in 2025 bang wees om 'n oproep te mis. Neuroloë vertel dat ons breine só “bedraad” is dat ons deel van ander mense wil wees. Niemand wil in isolasie leef nie. “A sense of connectedness” noem ons dit. Die hartseer feit is dat ons so maklik ons behoefte om te behoort by die verkeerde “addresse” kan probeer bevredig. Ons soek “ons plek” by verkeerde plekke én mense. Dit is een van die groot redes waarom mense nooit tot hulle volle potensiaal kan kom nie. As jy nie is waar jy behoort te wees nie, kan jy ook nie wees wie jy bedoel is om te wees nie. Jesus verstaan hierdie behoefte wat ons het om te behoort. Daar is net een plek waar dit bevredig sal kan word: “Niks moet ons van mekaar skei nie! Julle moet baie naby aan My bly, soos takkies wat aan die druiwestok vasgegroei is. Ek sal net so naby aan julle bly - soos ’n druiwestok wat vasgegroei is aan sy takkies” (aldus Joh. 15:4a – uit die Boodskap). Dit is só vanselfsprekend: geen takkie sal druiwe kan dra as dit eenkant lê nie. “Net so het julle My nodig om ’n goeie, vrugbare lewe te kan lei”, sê Jesus (15:4b).Hoe kry ons dit reg om in verbondenheid met Jesus te leef? Eenvoudig: “Julle moet in my liefde bly.” “Wikkel julle elke oomblik van die dag in hierdie liefde van My toe.” (Joh. 15:9 – uit die Boodskap). Of, aldus The Message: “Make yourselves at home in my love. If you keep my commands, you’ll remain intimately at home in my love.” GebedHere, dankie dat U my begeerte na 'n holte vir my hart by U tot rus laat kom.
Indien iemand my sou vra hoe klink my gebede die laaste jaar of wat, sou ek net sê, “smekinge”. Hopeloos sukkel ek om uit die spiraal van my onbeantwoorde gebede te kom! Ons woon deesdae Sondae die eredienste van die Northside Baptistek Kerk in Sydney, Australië, by. Een Sondag, verlede jaar, sing een van ons pastore die liedjie, “Take heart”. Die eerste vers se woorde gaan so: “When prayers from the deep go unanswered, my doubts seem to drown out Your voice; my questions feel met by a silence.Do You hear me when I call?”My hart huil! Ek weet presies waaroor sy sing! “Moet oor niks besorg wees nie, maar maak in alles julle begeertes deur gebed en smekinge en met danksegging aan God bekend” (Fil 4:6). Dit word die “hallelujah-oomblik” in my lewe. Dis hoe ek uit hierdie spiraal moet kom - met danksegging. Ek kan alreeds dankie sê, selfs vir dít wat ek weet ek ook nog gaan ontvang. Dit mag dalk anders lyk as waarvoor ek gevra het, maar ek sal ontvang soos Hy dit vir my afgemeet het. Alles het vir my verander! Soos Dawid in Psalm 20:5 (in die Engelse vertaling) sê ek ook, “ may we shout for joy.” Van vreugde loof en prys ek die Here en sê ek vir Hom dankie: Hy is die Een wat nooit ophou om saam met ons ‘n pad te stap nie. Toe seën die Here my ook nog hierdie week met Tatjana Schoenmaker en Bianca Buitendag se getuienisse. Bianca se ontvangs by George lughawe het my in trane. Tatjana se inskrywing op Twitter haal ek gedeeltelik aan: “Father God … may we praise you no matter what the outcome … and may we forever be in the awe of your goodness”.Geskryf deur Ronel Paul, wat deesdae saam met haar gesin in Sydney woon.Gebed: Here, dankie dat ek U antwoorde met dankbaarheid kan verwag, want U is getrou.
Ek is ‘n blom-mens. Ek dra klere met blompatrone; ek versier my huis met blomme. Ek woeker tydig en ontydig met my vingers in my blomtuin. Vir my is blomme simbolies van gelukkig-wees. Dit vang skoonheid en liefde vas. Om ‘n blom by iemand te kry of vir iemand te gee, is ‘n uitdrukking van omgee en vriendskap, dankbaarheid en vertroosting. ‘n Mens kan selfs vergifnis vra met ‘n bos blomme in die hand. Eenvoudig: blomme verbeeld die lewe. Met hartseer en al protesterend moes ek al van ‘n geliefde sprokiestuin afskeid neem; net om voor ‘n stuk rou grond neergeplaas te word. Oor-en-oor moet ons mos nuwe uitdagings aanvaar. Dit neem geduld om vanuit niks iets te maak. Menseverhoudinge werk ook so! By sommige is dit maklik om die “ruiker van Christus” aan te gee: jasmynliefde en katjiepieringvrede en bakke vol roosblaar-hoop. Paulus praat mos van ‘n lewensgeur wat lewe wek (aldus 2 Kor 2:16). Ons roeping is om aan te hou, selfs by die halstarrigstes, al wil ek moed opgee en eerder met my vingers in regte grond gaan woel. Dan wéér probeer, met Psalm 126:5-6 as my motivering: “Wie met trane saai, sal die oes met gejuig inbring. Al loop hy en huil terwyl hy die saaisak dra, hy kom juigend terug terwyl hy sy gerwe dra.” Ek kan die beste grondvoorbereiding gedoen het; op die regte plekke my saad saai; só gereeld natspuit soos die tuingidse my leer, maar soos Paulus en Apollos moes ontdek (1 Kor 3:6-7), moet ek ook: groei kan slegs God bewerk. Slegs die Heilige Gees maak van ons lewende liefdesruikers. Dít is God se “komposbestanddele” om vrug te bring in ‘n wêreld vol gebrokenheid en onsekerhede. Ronell Bezuidenhout GEBEDHERE, U is die Groot TuinierPluk vandag uit my lewe vir U ‘n geloofsruiker vol geurvolle goeie dade om iemand anders se lewe te laat blom.
Hy gaan die woestyngedeeltes maak soos Eden, die barre wêreld soos die tuin van die Here” (Jes 51:3). Een week voor ons vertrek, lê Jerusalem onverwags toe onder die sneeu. Ek moes in my tas inderhaas plek maak vir ’n warm baadjie, mus en stewels, maar steeds het ek bly hoop op goeie weer. Ek het daarna uitgesien om die amandelbome waaroor in Jeremia 1:11 geskryf word, vir die eerste keer self in Jerusalem te sien bot. Sommer die eerste dag in Sesarea het viooltjies weerbarstig tussen die growwe klip geblom. ’n Groot ou vyeboom tussen die ruïnes van Herodes se paleis was vol aan die bot, oortrek met vruggies en nuwe blare. Hier het ek Jesus, die groot Tuinier, se woorde oor die vyeboom wat nie wou vrug dra nie en wat Hy uit genade sou versorg, weer onthou (Luk13:6-9). Galilea was groen en oortrek met veldblomme. Rooi papawers en geel mosterdblomme het geil tussen groen koring geblom. By die oorsprong van die Jordaan, hoog in die Libanon-gebergte, het dit geborrel en gebruis van lewe. Strome lewende water vir elkeen wat dors het. Maar dis die prentjie van die woestyn wat ek vir altyd met my sal saamdra. Die stuk aarde wat ek nog net dor en kaal gesien het, het nou groen en toe onder die veldblomme voor ons uitgestrek. Met een oogopslag het die eeue-oue beloftes van God se sorg en liefde weer diep in my binneste kom lê. “Nou gaan die Here Hom oor Sion ontferm ... Hy gaan die woestyngedeeltes maak soos Eden, die barre wêreld soos die tuin van die Here. Daar sal vreugde en blydskap in Sion wees, daar sal gedank en gesing word.” (Jesaja 51:3) Vandag maak ek die woorde van die profete van ouds van vooraf weer my eie. Want ek het die woestyn sien blom! Skrywer: Christine Ferreira (Randburg)Skrywer, Joernalis en Radio-omroeper Here, Na ‘n winter vol koue sien ek rykhalsend uit na die lenteMaak van dit ‘n lente, ook vir my hart: een waar vreugde en blydskap geil groei.
“Alles, alles is genade, onverdiende guns alleen.” As dit waar is dat “alles” genade is, dan beteken dit dat genade alleen genoeg is. Wanneer daar in my lewe ‘n probleem is, is die “blye versekering” mos dat ek steeds God se genade het. As ek dit heelhartig glo, dan nooi die psalmdigter my om ook heelhartig saam te bely, “die Here is my Herder, ek kom niks kort nie” (want ek het God se genade). God sit ons in almal se hand – sonder dat ons iets moet doen – ‘n sleutel, genaamd GENADE. Hiermee kan ons elke lewensgeheim ontsluit. Dit is ons keuse. Het jy ‘n begeerte om in jou toewyding aan God te groei? Draai die sleutel van genade! Sukkel jy om te bid? Is jou hand te styf vasgeklem om jou beursie en sukkel jy om ‘n vrygewiger mens te wees? Moet jy iemand vergewe? Wil jy gelukkiger leef? Ontdek genade, onverdiend! Die bekende Amerikaanse teoloog van ‘n eeu gelede, Jonathan Edwards, is bekend vir sy mooi uitdrukking: “Grace is but Glory begun, and Glory is but Grace perfected.” Daar is net een reaksie wat pas by genade, en dit is hoe jy God kan verheerlik: leef ‘n lewe dankbaarheid! Soos Titus (3:3-7) leer, “Vroeër was ons ook onverstandig … Maar toe het die goedheid van God ons Verlosser en sy liefde vir die mens verskyn … op grond van sy eie ontferming. … God het die Heilige Gees oorvloedig op ons uitgestort deur Jesus Christus ons Verlosser. So is ons dan deur sy genade vrygespreek en het ons erfgename geword van die ewige lewe wat ons verwag.” “Alles, alles is genade, onverdiende guns alleen.” Dít is waar ‘n lewe “in volle blom” vir God begin. Ontdek dít, en jy ontdek die geheim vir die lewe. GEBEDEk sing! Ek sing, Here! Alles begin by U genade!Ek blom! Ek blom, Here! Ek loof U vir genade!
Ek is een van daardie mense wat met musiek in my ore gebore is. Heeldag loop ek musiek en maak … heel dikwels met ‘n teksvers. Soms is dit ‘n bekende “koortjies” wat ons Vrydagaande by die Koffiekroeg gesing het: Praat ek mense engele tale maar dis nie uit liefde nie, is my woorde hol simbale klanke sonder melodie…. Of al het ek al die kennis, sonder liefde is ek niks. Hierdie woorde hoor ek oor en oor in my kop. Ek probeer dit skommel om iets daaroor te kan skryf. As ek te lank sukkel om woorde “lyf” te laat kry, dan weet ek al, ek moet nadink of dit uit liefde gebore is? Wil ek myself dalk net laat geld? Ja, wat ‘n gereelde lewenstoets: om te moet terugdink! Word al mý woorde en dade deur liefde gemotiveer? Of is daar ook soms net hol klanke sonder melodie … Skielik kom ‘n nuwe wysie op: “Die Here jou God is by jou, ‘n held wat verlossing bied, Hy verheug Hom oor jou in blydskap” (n.a.v. Sef. 3:17.) Wanneer mense se woorde, soos ‘n onverwagse brander, my van voete afslaan, en ek sukkel-sukkel opkom, moet ek onthou: Hy verheug Hom oor my! Ongeag ander so opinies, God s’n sal altyd swaarder weeg. Is dit nie maar net twee kante van dieselfde munt nie? As die Here my herinner dat ek vir Hom kosbaar is, en Hy MAL is oor my; dan behoort my woorde en dade liefdesboodskappe te wees wat ander herinner: “Die Here is mal oor jou – net soos jy is!” As die wêreld se woorde en deuntjies jou ore laat tuit, probeer harder luister. Soek die ander deuntjie; die teen-wysie. Kyk uit vir die een met ‘n ander ritme en ander kleur… en volg Hom! Johanika Pretoruis, ‘n ma, eggenoot en besigheidsvrou is van Randburg. Sy is ‘n passievolle musikant GEBEDHERE,Leer my sing op die maat van U musiekGee my die fyn gehoor om U wysie te hoor waarop ek my lewensdans kan uitvoer.
“We are not human doings, we are human beings.” Dis waar. “Blom!” is nie om méér of beter te doen nie – dit is 'n manier van wees. God ontmoet ons heel eerstens wáár ons ís: of jy die moeë enkellopende ma is wat sukkel om die pot aan die kook te hou, of 'n afgetredene wat moet aanpas in 'n nuwe blyplek; of die mens wat in die inperking jou werk verloor het. Net daar waar jy nóú “geplant” is - dáár ontmoet God jou. Dáár is God besig om jou – prosesmatig – te verander sodat jy al meer word soos Christus is: 'n nuwe mens. “Iemand wat aan Christus behoort, is 'n nuwe mens. Die oue is verby, die nuwe het gekom”, herinner Paulus mos in 2 Kor. 5:17. Wanneer ons sê dat ons voluit wil blom, beteken dit juis dat ons al méér en méér die beeld van God reflekteer. Voluit! Veelkleurig! Maar steeds bly dit alles die werk van God (v18). Enige dinge wat jou daarvan weerhou om “soos Christus” te leef, daarvan het jy 'n bekering nodig. Sodra jy sien jou blom-wees begin “verlepperig” vertoon, kan jy maar kyk na waar die bekering moet plaasvind. Ook dít wil God vir jou doen as jy God toelaat.Dit laat my sommer dink aan Jesus wat gesê het, (en ek speel so bietjie met die woorde, maar ek dink Jesus sal verstaan): “Kom na My toe, almal wat uitgeblom en vaal en verlep voel, en Ek sal julle weer veelkleurig maak. Gebruik die voeding wat Ek julle gee en volg My aanwysings, want Ek is sagmoedig en nederig van hart, en weldra sal julle weer tot volle blom kan oorgaan” (met apologie aan Matt. 11:28-30). GebedHere, ek raak maklik gewoond aan my eie verleptheidVergewe my dat, al is ek 'n nuwe mens in Christus, my gedrag so baie steeds soos die van 'n “ou mens” lyk.Dankie, dat ek na U mag kom, Sagmoedige God en vra: “vernuwe my!”
“Moenie dat dit jou ontstel nie. Vertrou My net” (Mark 5:36 - Die Boodskap). Hierdie woorde kon net deur God Self gespreek word. Niemand anders sou kon waag om by ‘n sterfbed te staan en te sê dat mense hulle onder daardie aaklige omstandighede nie moet laat ontstem nie en dat hulle net volkome op Hom moet vertrou. Eintlik lyk daardie woorde totaal onvanpas. Onmoontlik om te gehoorsaam, wat nog van verstaan. Maar, as mens kyk na Wié dit sê langs die sterfbed van Jaïrus se dogtertjie en wat daarna gebeur, dán maak dit op ‘n vreemde, wonderbaarlike manier sin. Die Persoon aan die woord, is niemand anders as Jesus Christus nie. Vra maar enige gelowige ouer wat al langs die kis van ‘n kind gestaan het en toe moes uitvind dat Jesus inderdaad by jou staan en dat jy gedra word. Dag na dag. Nee, dis nie maklik nie. Dis hartverskeurend. Dis soos met vele ellendes, onuitspreeklik smartlik. Dis geen gladde antwoord nie. Jou vrae word ook nie beantwoord nie. Jou hartseer word wel toegevou in die Here se lieflike en vertroostende nabyheid. Mits jy Hom toelaat deur blindelings aan die woorde van Markus 5:36 vas te hou. Deur dit jou eie te maak, jou lewensmotto. Daar word van jou gevra om God volkome, met jou hele hart en siel, te vertrou. Al begryp jy niks van die gebeure nie. Een feit kan almal wat met onmoontlike aardse probleme worstel, wel weet: God hou sy woord. Hy maak nooit leë beloftes nie. Mens kán Hom vertrou. Net soos wat die onmoontlike moontlik gemaak is in daardie kamer waar Jaïrus se dogtertjie opgewek is, net so sal God sy woord hou met elkeen wat in Hom glo. Daarom kan ons te midde van al die storms rustig en vredig wees. Geskryf deur Helene de Kock, skrywer van Pretoria en wie se oudste seun in ‘n motorongeluk dood is. Here, U vra van my om nie ontstel te wees nieterwyl alles in my wil protesteer.Al waaraan ek vashou, is dat U sê U geen leë beloftes maak nie.Bring dan my ontstelte hart tot bedaring, Here. Laat my vertroue in U toeneem, asb.
Baie mense wonder oor ‘n lewe van toewyding aan God. Soos ‘n vriendin skryf, “ek brand van begeerte om in ‘n diep verhouding met God te kan wees, maar my hele lewe bestaan op die oomblik uit werk en nogmaals werk.” As traumaspesialis is sy inderdaad die hele dag (en nag) ‘n “gevangenene” van haar kennis en haar ervaring. Vir elkeen wat in die web van verantwoordelikhede vasgevang is, is die verwerking uit 2 Pet 1:3-4 (Die Boodskap) dalk juis vandag bemoedigend: “Die Here het vir julle alles gegee wat julle nodig het om elke dag reg te leef en in ’n persoonlike verhouding met Hom te staan.” (Met ander woorde, dit is nie iets wat ons moet doen nie, dit is iets wat ons moet leer ontvang!) Om voluit te blom is om God se oorvloedige genade te leer ontvang. Waar jy ook al is! Gee dadelik pad wanneer jou eie begeertes jou op sleeptou wil neem sê Petrus. Maar weet jy wat, dit sluit ook daardie selfspraak in waar jy jouself laat glo dat jy die “toets dop” omdat jy nie “genoeg” doen nie. Ons het mos hierdie idee dat “toegewydheid” te make het met méér Bybel lees of méér bid of méér spiritueel wees. Dit hét. Maar nóg voor dit, is daar iets anders om te besef: kom net eers agter dat die “doen werk” alles van God af kom. God gee alles. Leer jy om waar jy is, met al jou verantwoordelikhede, eers met met “oop hande”, te ontvang - daar waar jy Leer om midde jou dag se besig wees, “dankie” te sê, want God gee oorvloedige goed – alles - vir jou. Dít is waar ‘n heilige en toegewyde lewe begin! Nie by wat jy doen nie. Maar by wat God doen.GebedHere, ek staan soggens op – gejaag;saans val ek in my bed – uitgeput.Steeds wil ek U volgeling wees, dankie dat U nie “méér doen” van my vra nie,dankie dat ek by U kan rusen U vrygewigheid mag ontvang.Ronell Bezuidenhoutwww.ronellbezuidenhout.co.za
Dis 42 jaar gelede: ’n doodgewone Vrydagmiddag, 27 April 1979, 17.15. Die pastorie se voordeurklokkie lui; ek maak oop. Daar was ‘n ongeluk … hy leef nog! Dertig minute later, in die hospitaal, hoor ek net die dokter sê: “Mevrou, ons het gedoen wat ons kon....máár…”.Vier verwese kindergesiggies (7, 5, 2½ jaar, en ‘n 9 maande oue) wag my by die huis in. Om hulle pappa nooit weer te sien nie!‘n Wawyd-wakker brein laat my deur ‘n gans-slaaplose-nag worstel - met net sy bril, horlosie en trouring hier langs my op die plek waar moes lê. Hy, my hartsmens, my trouman, liefde-van–my-lewe wat homself vir net 9 jaar en vier maande langs my kon neernestel.“Hoe nou verder, Here?” pleit ek die nag lank!In my hande lê my Bybel met die menig-onderstreepte tekste. My oog hak vas by “Ek kyk op na die berge; waar sal my HULP vandaan kom; My HULP is van DIE HERE alleen.” Psalm 121. Hoe sou ek dit nie moes leer nie! U is my HULP! God se hulp omhels; die “arsenaal” van beloftes is tot mý beskikking. Deur die jare leer ken ek dit op ‘n gans nuwe vlak. My vashou-tekse: ook Jes. 45:2-, Rom 8:28-, Ps. 18:30-;En hoe het hierdie HULP nie telkemale uitkristalliseer nie: Hy gebruik mense, maar ook Sy Gees.Hy gee gesondheid.....ook Sy goedheid en guns.Hy voorsien..... soms ook op wonderwerk-wyses.Hy sny die legkaartblokkies uit (reeds van voor my geboorte af leer Ps. 139) om later volmaak – op Sy tyd, in te pas in Sy beplande legkaart van my lewe.Ek ontdek algaande, Sy HULP is Sy GENADE. Ook vir jou wat hier lees, watter storm ook al woed. Sy HULP is genoeg om jóú ook deur te dra. KRUISDOODHULP! Skrywer: Nina Pieterse, weduwee sedert 1979.Somerset-Wes/Reebok GEBEDHere, hoeveel keer wonder ek nie ook nie: waar sal my hulp vandaan kom? Soos Dawid sing ek vandag my genadelied: U hulp kom my van alle kante tegemoet.
Droom jy nog? Droom jy soms oor ‘n lewe wat anders kan lyk? Droom jy oor die lewe soos God oor die lewe droom? Droom jy saam met God? Daar is twee maniere hoe ‘n mens die lewe kan benader. Die een is ‘n gesindheid van “as ons net weer kan terugkeer na normaal waar ons in rustigheid kan woon en werk”. Daar is ook ‘n ander standpunt: Carpe diem! Die toekoms behoort aan God! Droom saam! Hef aan! Persoonlik dink ek dat wanneer gelowiges opgewonde kan raak oor die onbekende toekoms, dat dit juis die plek is waar hulle God die meeste gaan leer ken. Ek is oortuig daarvan dat as jy opgewonde wil word oor die lewe moet jy eers opgewonde kan raak oor God! Thomas van Aquinas (13de eeuse teoloog) het geseê, ons is mense vol begeertes, een daarvan is om gelukkig te wees. Die probleem is dat ons ons geluk soek in dinge wat mensgemaak is. Waarop Aquinas skryf, “God alleen kan die wil van die mens bevredig volgens die woorde van die Psalms 102:27-28, “Soos 'n kledingstuk verslyt, so sal alles vergaan, soos klere wat uitgedien raak, so sal U alles laat verdwyn. Maar U bly dieselfde, u jare het geen einde nie.” God alleen is die mens se geluk!” Jy mag dalk instemmend lees, en tog steeds wonder hoe word God al méér en méér, en jy al mínder? Hoe Blom! ‘n mens in jou verhouding met God, sodat jy saam met Aquinas kan uitroep: God alleen is my geluk! Nie die “terugkeer na die ou normaal nie”, nie eers die sg “nuwe normaal” nie. Maar God, en enkel God. Gaan jy aanhou om die bekende pad in jou verhouding met God te loop, of gee jy jouself oor aan ‘n onbekende toekoms saam met God. Wetend – soos Ps 102:27 sê. Die hemel en die aarde sal vergaan, maar U sal bly. Gebed:Here, praat U dalk vandag spesifiek met my? U weet dat ek U wil volg … maar wil ek U en U alleen volg? Is ek regtig opgewonde oor U soos iemand wat total oorgegee is aan U? Wys my, asb, Here.
“My genade is vir jou genoeg. My krag kom juis tot volle werking wanneer jy swak is.” 2 Korintiërs 12:9Ons is midde die derde golf van COVID-19 infeksies. Twee kollegas met wie ek ‘n werksruimte deel is pas positief getoets, ‘n vriendin se man stry teen asemnood. Nog ‘n vriendin se suster is weke reeds in Intensiewesorg. Rondom ons het elkeen ‘n geliefde wat of siek was of gesterf het. Die land is vuisvoos van inperkings, korrupsie, werkloosheid, beurtkrag, onrus, plundering en geweld. Hoe kan mens iemand kwalik neem wat soos Paulus wil uitroep dat genoeg, genoeg is? Kan die Here nie nou maar hierdie “dorings” uit ons vlees verwyder nie? Mens kan tog net soveel hanteer voor dit te veel word!Dan kom die oproep dat ‘n vriendin se seun, wat weens inperkingsregulasies sy werk verloor het, na 9 maande nie net een nie, maar twee werksaanbiedinge ontvang het. Na maande waarin hy los werkies moes doen om vir sy gesin te sorg, het hy ‘n keuse van twee betrekkings! Die voordele is selfs beter as dit wat hy voorheen gehad het. Die Here was hom genadig! Hy het weer hoop in ‘n “hopelose” wêreld.Sedert Maart 2020 was ek elke dag opnuut bewus van ons afhanklikheid van die Here. Ons kon nie staatmaak op goeie salarisse, gesondheid, aansien of voorspoed nie. Ons het ervaar hoe vinnig hierdie dinge weggeneem kan word; hoe vinnig ons ook ‘n statistiek kan word.Die afgelope jaar is ek daagliks herinner aan my afhanklik van die Here. Dit is slegs deur Sy genade dat ons steeds hier is, dat daar steeds vir ons voorsien word. Sy genade is vir ons genoeg en Sy krag kom juis tot volle werking in die donker van die nag waar die nood op die grootste is.Skrywer: Sunell Lötter, Bibliotekaris, KaapstadGEBED:HERE, UIT U KRAG KAN ONS MET HOOP LEEF. MET U SORG KAN ONS MET VREUGDE LEEF. DEUR U GENADE KAN ONS MET VERWAGTING LEEF.